Gasspreker (17) besiel by diplomaplegtigheid

Hillary Geslin, jong Wellingtonse student wat wêreldbekendheid verwerf het met ’n uitsonderlike boek wat sy geskryf het, was die gasspreker op die jongste diplomaplegtigheid van die Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington.


Hillary Geslin, jong Wellingtonse student wat wêreldbekendheid verwerf het met ’n uitsonderlike boek wat sy geskryf het, was die gasspreker op die jongste diplomaplegtigheid van die Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington.

Hillary het as jong skooldogter op Wellington ’n boek, Success comes with Effort, geskryf. Die boek is deur ’n bekende Amerikaanse uitgewer uitgegee en dit was onmiddellik ’n wegholsukses. Daar is reeds miljoene eksemplare van Hillary se boek wêreldwyd verkoop.

Die studente van Wamakersvallei-opleidingsentrum wat vroeër vandeesmaand hul kursusse suksesvol voltooi het, het op Wamakers se jongste diplomaplegtigheid aan Hillary se lippe gehang toe sy hulle as gasspreker toegespreek het.

Sy het vertel hoe sy as jong Wellingtonse skooldogter teen armoede en swaarkry moes veg en hoe sy op ’n dag besluit het om alles in die stryd te werp om haar omstandighede te verander.

Sy het begin om ’n boek te skryf en ondanks die swaarkry het sy elke dag daarmee voortgegaan tot sy die manuskrip voltooi het. Geen Suid-Afrikaanse uitgewer het in die skryfwerk van ’n skooldogter belanggestel nie.

Sy het die manuskrip na ’n paar Amerikaanse uitgewers gestuur en een van hulle het besluit om dit as boek uit te gee.

Die sukses wat haar boek onmiddellik oor die wêreld heen behaal het, klink soos ’n sprokie.

Selfs Barack Obama, die vorige president van Amerika, het laat weet dat hy die boek baie geniet het!

Vir die studente van Wamakers-opleidingsentrum, wat feitlik elkeen hul eie storie van swaarkry en veg teen moeilike lewensomstandighede kan vertel, was Hillary se verhaal ’n groot inspirasie. Wamakers se kursusse is deur die bank daarop ingestel om mense te bemagtig om hul lewensomstandighede te verander en te verbeter. Die jongste opleidingsessie by die sentrum is ook bewys daarvan dat mense van oral oor begin insien dat die opleiding wat Wamakers bied, hulle wel kan help om te groei en hul drome waar te maak.

Die jongste reeks kursusse was so gewild dat die sentrum se fasiliteite feitlik uit sy nate gebars het.

Altesaam 16 studente het die kursus in kleutersorg voltooi, daar is ook 22 tuisversorgers opgelei en ’n klompie studente is as salonassistente, kokke en as ontvangsdames opgelei.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.