Dit was ’n naelbyt-einde aan die kompetisie, met Standards wat net moes wen om die beker te verower, en Gardens wat met ’n bonuspunt moes wen om met die louere weg te stap.
Boonop het albei taai teenstand gehad – Gardens het teen Riverstones, wat hulle in die eerste ronde verras het, gespeel en Standards teen Laer Paarl, wat Gardens onlangs getroef het.
Ná twee uiters harde en spannende wedstryde was die uitslae: Young Gardens 22, Riverstones 17; Laer Paarl 18, Young Standards 15. Dit het beteken dat Young Gardens in sy 75ste bestaansjaar die eerste keer sedert 2003 die ligakampioen is.
Gardens het die seisoen op 66 punte afgesluit teenoor Young Standards se 63. Laer Paarl het op 57 punte derde geëindig.
Young Standards se tweede span is die ligakampioen met Gardens tweede, terwyl Young Gardens se derde span koning gekraai het.
Ander uitslae Saterdag was (eerste spanne): Allandale 26, Rangers Paarl 29; Simondium 24, Pêrel United 7.
’n Interessante uitklopkompetisie lê nou voor, met al die spanne wat sal wil verhoed dat Gardens die “dubbel” vermag.
. Saterdag word die ligaseisoen afgesluit met ’n wedstryd tussen Violets en Riverstones. Violets- en Riverstones-rugbyklubs vier vanjaar albei hul 120ste bestaansjaar.
Die twee klubs, wat vyfjaarliks hul derby-wedstryde speel, speel hierdie Saterdag (23 September) op die Faurestraat-stadion om hierdie mylpaal te vier. Die hele Paarl-gemeenskap word na een van die oudste klub-derbies in die land uitgenooi.