Die Drakenstein-munisipaliteit is in die proses om nuwe openbare-geriewe by-wette (regulasies) in plek te stel.
Dit kom nou veral in die lig van die aanbreek van die somerseisoen wat voorheen gelei het tot grootskaalse wetteloosheid by bv. die oewers van die Bergrivier in die Paarl.
Die voorgestelde by-wette is gespits op die verbod op die spring van brûe in riviere en die verbruik van drank of enige onwettige middel in of op oewer van enige rivier. Sport- en ontspanningsaktiwiteite soos swem en kanovaart in riviere word wel toegelaat maar op eie risiko.
Dit is nog onseker wanneer hierdie by-wette geïmplimenteer sal word, want dit moet eers ’n openbare proses volg.
Maar wat ook al, Drakenstein het ’n hele lêer vol by-wette wat eenvoudig nie gepolisieer word nie. En ons weet almal te goed dat wette op papier niks werd is as dit nie gepolisieer word en dan ook gevolge dra nie.
Al jare lank wag die vallei vir ’n munisipale hof, juis om die verontagsaming van by-wette af te dwing.
Maar hiermee was ’n jarelange burokratiese rompslomp ook. Die nuus vanaf binne die gryspaleis is dat die hof uiteindelik op 1 Desember vanjaar die lig sal sien. Die situasie sal vanaf daar fyn dopgehou word om te bepaal of die munisipaliteit uiteindelik daad by die woord sal voeg en hul eie wette in die vallei sal polisieer.

