Die Drakenstein-vallei bars behoorlik uit sy nate uit met ontwikkelings. Dit beteken jaarliks trek honderde nuwe gesinne na die vallei.

Een duidelike probleem wat ontstaan is die ernstige toename in die verkeer op alle paaie in die Paarl.

Praat net met diegene wat aan die oostekant van die rivier woon en minstens twee keer per dag een van die brûe moet oorsteek om na hul werkplek of skool te kom en terug. Die verkeersopeenhopings in veral spitstye is ’n behoorlike kopseer.

Ook die historiese Paarlse hoofstraat raak al hoe meer beknop vir padgebruikers. Hier is geen verbeterings in sig ten opsigte van verkeersopeenhopings nie.

Goeie nuus is wel dat die Wes-Kaapse regering twee jaar gelede ingespring het met padwerke aan die R301 wat veral lei na talle spoglandgoedere, en onlangs is werk aan die R45 begin. Ongelukkig gaan dit gepaard met reuse- opeenhopings weens padwerke wat motoriste soms vir tot 30 minute tot stilstand bring.

Maar hierdie padwerke is noodsaaklik om padgebruik te verbeter met die reusetoename van mense in die vallei.

Inwoners kan ook maar net hoop dat die Drakenstein-munisipaliteit sal wakker skrik om verkeersverligting op die sentrale paaie in die Paarl ook mee te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.