Die Wellington- ATKV-gesinstak hou in Julie weer sy gewilde bustoer na die Sutherland-sterrewag.
Die bus sal op pad na Sutherland in Matjiesfontein stilhou – voorwaar ’n ondervinding wat nie misgeloop moet word nie.
Matjiesfontein dateer uit die Victoriaanse era. Die bekende Milner Hotel is aan die begin van die Suid-Afrikaanse Oorlog gebou. Die hotel is in 1899 deur James Logan gebou en is as militêre hospitaal gebruik toe sowat 10 000 Britse troepe daar vir die Anglo-Boereoorlog gestasioneer was.
Matjiesfontein was ook eens bekend as ’n Victoriaanse gesondheidspa – veral vanweë sy besondere klimaat – en word jaarliks deur menige internasionale toeris en veral Britse krieketspelers besoek.
Die graf van ’n voorheen bekende Britse krieketspeler, George Lohmann, is sowat 10 km buite die dorp. Lohmann het sy laaste jare in Matjiesfontein vir die wonderlike klimaat deurgebring.
Van Matjiesfontein af reis die busgroep na Sutherland, waar hy onder die leiding van Willie Koorts ’n besoek aan die wêreldbekende sterrewag sal bring.
Die toer is van 27 tot 28 Julie.
Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Kontak Jenny Hanekom by 078 765 2638 of per epos by jennyhanekom2@gmail.com vir nog inligting.