Altesaam 16 skrywers het saamgewerk om een van hul vriende se droom te bewaarheid. Sodoende het die goudgeel bundel Eisteddfod-Pret die lig gesien.
Dit bevat 108 splinternuwe gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake – net reg vir laerskoolleerders wat aan eisteddfods gaan deelneem.
Die bundel, uitgegee deur Human & Rossouw, word Saterdag 17 Maart by die Breytenbachsentrum in Wellington bekendgestel.
Huisgenoot se boekeredakteur, Elna van der Merwe, sal in gesprek wees met die samestellers, Gloudine Kellerman en Jonelle du Toit en ander lede van die Fynbosskrywersgroep wat die nuwe tekste geskryf het. Saam met Kellerman en Du Toit het Elizbe van der Colff, Fawa Conradie, Hanlie de Wet, Johanna Lourens, Jonelle du Toit, Louwretta Drake, Mariana Gerber, Marlene Smit, Mickey Rautenbach, Nelia van Zyl, Nellie Alberts, Rina Cilliers, Santie Nel en Esta Steyn bydraes gemaak.
Die Fynbosskrywers is ’n groep skrywersvriende van die Kaap tot in Hermanus, Riebeek-Kasteel, Knysna, Hermanus en Calvinia wat saamwerk aan jeug- en kinderboeke. Hulle het reeds bundels soos Middernag en ander spokerige stories en Liefde is ’n Sprokie geskryf, met laasgenoemde wat in 2016 ’n ATKV-Woordveertjie gewen het.
Die uitgewers glo hul nuwe eisteddfod-bundel sal almal wat al na versies of dramatiese teks moes soek, ’n sug van verligting laat slaak.
Vir samesteller Gloudine Kellerman is die bundel ’n droom wat waar geword het. Sy was vir byna 20 jaar ’n grondslagfaseonderwyser.
Haar eerste kennismaking met eisteddfod-optredes het gekom toe die afrigting daarvan by haar pligstaat as onderwyseres van Laerskool Riebeek-Kasteel ingevoeg is.
“Ek’t my daarin so uitgeleef dat ek later op die bestuur van die Wes-Boland-eisteddfod gedien het,” vertel sy.
Die ondervinding op eisteddfod-verhoë het haar egter laat besef hoe moeilik dit is om jaar ná jaar vars en gepaste tekste te kry wat voorgedra kan word. Met die doel voor oë om ’n eie bundel met pasklaar eisteddfodtekste te skryf, het sy in 2007 ’n skrywerslypskool bygewoon, om die fynere kunsies van skryf te leer. Van die deelnemers het saam die Fynbosskrywers begin.
Een ding het na ’n ander gelei en in 2016 het Gloudine weer haar idee vir ’n spesifieke eisteddfod-bundel aan uitgewers voorgelê.
. Die verrigtinge begin Saterdag om 10:30 vir 11:00. Om te kan bywoon, stuur ’n e-pos na rsvp@nb.co.za.