Die Full House- meubel- en toestellewinkel het ’n Paarlse gesin se wildste drome bewaarheid en vir hulle ’n splinternuwe houthuis, of te wel ’n wendyhuis, gebou, met die oorhandiging wat die afgelope Vrydag (23 Augustus) plaasgevind het.
Volgens Le Roi van Niekerk, Full House se bemarkingsbestuurder, is dit nou al langer as twee jaar wat die maatskappy deur middel van hul win a room makeover-inisiatief gesinne se huise opgradeer. Dié keer was dit egter nie net ’n kamer wat oorgedoen is nie, maar ’n hele huis.
Maxwell en Leona Martin woon saam met hul twee kinders in die Chester William-park informele nedersetting in Paarl-Oos.
As gereelde Full House-klante het die Martin-gesin onlangs toestelle van meer as R999 gekoop, waarna hul naam as deel van die “win a room makeover”-inisiatief in ’n boks geplaas is.
Dié inisiatief behels dat klante wat R999 of meer bestee, in aanmerking kom vir die opknapping van ’n kamer in hul huis.
Full House het reeds 10 projekte voltooi, waaronder in klein dorpe soos Atlantis, met geen einde aan die inisiatief in sig nie.
Van Niekerk verduidelik dat die maatskappy minstens drie soortgelyke projekte per jaar aanpak.
“Dit was nooit veronderstel om ’n huis-makeover te wees nie, maar almal het net hulle harte oopgemaak en wou Maxwell en Leona help.”
Volgens Van Niekerk het hy Maxwell se naam getrek en nadat hy vasgestel het waar die Martins woon, het hy Full House genader met die idee om die gesin se sinkplaathuis te vervang met ’n houthuis, ten volle toegerus met lopende water en elektrisiteit.
Alles het in plek geval en die oorhandiging het op 23 Augustus plaasgevind.
Die Martins se nuwe tuiste spog met twee slaapkamers, ’n badkamer, sowel as ’n kombuis en leefruimte, ten volle toegerus met meubels en elektroniese apparate soos ’n televisie.
Verskeie plaaslike skenkers, onder meer die supermark waar Maxwell werk, het ook aanvullende finansiering verskaf, wat die gesin met R2 000 se elektrisiteitseenhede, sowel as kruideniersware, klere en ’n foon vir Maxwell kon toerus.
“Dit was wonderlik om te sien hoe almal saamgespan het om Maxwell en Leona te help. So baie mense ken hulle in die dorp [die Paarl],” sê Van Niekerk.