Die somer klop nou behoorlik aan die deur, dus is dit tyd om heerlik aan slaaie te smul. En een van die bekendstes hiervan is die Nicoise-slaai.
Geskep in die Franse stad Nice, is ’n Nicoise-slaai ’n vertoonkas van seisoenale en plaaslike bestanddele, maar dit bevat byna altyd eiers, olywe, vis, groenbone, tamaties en aartappels, wat met ’n pittige vinaigrette bedruip word.
Vir vier porsies benodig jy:
4 groot eiers
180 g groenbone, punte afgesny
6 baba-aartappels, gehalveer
1 koppie baba-tamaties gehalveer
1 koppie komkommer, geskil en in blokkies gesny
2 eetlepels kappertjies
½ koppie ontpitte olywe
2 blikkies tuna
4 koppies blaarslaai
Vinaigrette-slaaisous:
2 eetlepels asyn
2 teelepels mosterd
1 teelepel heuning
¼ teelepel knoffelpoeier
1 koppie olyfolie
sout en peper na smaak
So maak jy:
Vul ’n klein bak en ’n groot bak met yswater.
Kook eiers tot medium gaar en dompel dan in yskoue water om kookproses te stop.
Bring ’n groot pot soutwater tot kookpunt. Voeg gehalveerde aartappels by en kook 10 minute. Voeg groenbone by die kookwater en kook vir nog 3-5 minute of tot aartappels vurksag en boontjies sag, maar bros is. Dreineer en plaas in die groot bak yswater.
Dreineer die aartappels, gooi ’n bietjie olyfolie oor en geur met sout en peper.
Plaas al die slaaisousbestanddele behalwe olie in ’n klein bak. Klits terwyl jy die olyfolie baie stadig drup.
Sodra al die olie bygevoeg is, geur met sout en peper na smaak.
Rangskik blaarslaai, aartappels en boontjies op ’n opdienbord.
Skil eiers onder koue water. Sny in die helfte en voeg by die bord. Voeg tamaties, komkommer en olywe by.
Dreineer die tuna liggies en breek liggies met ’n vurk uitmekaar. Plaas bo-op die slaai.
Drup slaaisous bo-oor en garneer met kappertjies en vars pietersielie indien verkies.
Opsionele toevoegings:
Radyse, soetrissie-repe, rooi uie, vars kruie.


