Die 55-jarige beskuldigde.
Die 55-jarige beskuldigde.

Die ondersoekbeampte in die kinderpornografie-saak teen ‘n 55-jarige man van Franschhoek het Donderdag getuig dat selfs al word borgtog aan die beskuldigde toegestaan, sal die man weer in hegtenis geneem word nadat ‘n nuwe saak intussen teen hom aanhangig gemaak was waarin hy glo ook ‘n 11-jarige meisie betas het.

Die nuwe saak is vermoedelik reeds meer as ‘n week gelede geopen, maar die man kon nie aangekla word nie weens die aktiewe borgtogaansoek waarin hy op drie aanklagte wat met kinderpornografie verband hou tereg staan.

AO James Smith het Donderdag getuig dat die jongste slagoffer, wat nou 13-jaar-oud is, elf was toe sy glo deur die beskuldigde betas was.

Sy was volgens Smith een van die leerlinge wat deur die man vervoer was.

Smith het gesê die 13-jarige gaan ook ‘n getuie wees in die lopende saak teen die man.

Die man, wie se identiteit weerhou word weens die minderjarige slagoffers, se borgtogaansoek is Donderdag in die Paarl-landdroshof voortgesit.

Dit is die derde verskyning in die borg-verhoor.

Hy is op 16 Augustus by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem nadat ‘n video op sosiale media gesirkuleer het waarin hy seksueel verkeer met ‘n tienermeisie in haar skooldrag.

Smith het getuig dat die video vermoedelik in Oktober verlede jaar gemaak is toe die beweerde slagoffer 16 was.

Die beskuldigde het in sy vorige twee verskynings volgehou dat die tienermeisie die versoek gerig het dat die twee van hulle op minstens twee geleenthede seksueel verkeer, en sy volgens hom versoek het dat die dade gedokumenteer word.

Hy [die beskuldigde] het ook verlede week getuig dat die tienermeisie self die videos met sy selfoon geneem het.

Volgens die beskuldigde het hy minstens twee videos op ‘n hardeskyf gestoor en dit van sy foon af verwyder.

LEES: Franschhoekse ‘sekspes’ weerspreek homself in aansoek om borgtog

Die hof het Donderdag gehoor dat die polisie eersdaags ook op hierdie toestel beslag sal lê.

Die man het verlede week ook getuig dat die tienermeisie moontlik die video van Oktober verlede jaar vir iemand kon gestuur het.

“Sy het gesê ek moet die video’s hou totdat sy eendag ‘n foon het. Maar sy kon dit dalk vir iemand gestuur het terwyl ons gery van die plek [Franschhoekpas] waar die dade plaasgevind het.

“Sy het langs my in die bakkie gesit met my foon. Ek kon hoor sy kyk die video. Sy kon dit miskien op daardie oomblik vir iemand gestuur het,” het die man verlede week gesê.

Smith het egter Donderdag getuig dat die polisie in besit is van die video en dat daar vanuit die tienermeisie se posisie afgelei kan word dat sy nie die daad gedokumenteer het nie.

Volgens Smith sal die staat volhou dat die man die foon in sy hand gehad het.

Smith het getuig dat die man “vir sy eie veiligheid” nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

Volgens hom was die gemeenskap reeds met sy inhegtenisneming op 16 Augustus oproerig.

Hy het verder verwys na die man se vorige skuldigbevinding en opgeskorte vonnis in 2017 vir statutêre verkragting van ‘n 17-jarige.

“Die beskuldigde voor hierdie hof het duidelik geen berou getoon nadat hy voorheen skuldig bevind is op soortgelyke aanklagte nie.

“Hy het geen respek vir hofprosesse nie aangesien hy homself weer op minderjariges afgedwing het. Hoekom hy kinders verkies om hierdie seksdade mee uit te voer weet ek nie,” het Smith gesê.

Die saak is tot Dinsdag (16 September) uitgestel wanneer Smith deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger gekruisondervra sal word.

Die man bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article