Franschhoekse groep sal ‘bly veg’ oor trustgeld

’n Franschhoekse trust met sowat 254 begunstigdes, wat as deel van die grondhervormingsproses in die vroeë jare 2000 ’n stuk grond van vyf hektaar van die regering ontvang het, eis nou regsaksie teen drie van hul voormalige trustees wat binne ’n jaar

’n Lugfoto van die oorblywende twee hektaar grond in Reservoirstraat in Franschhoek. Foto: Google


’n Franschhoekse trust met sowat 254 begunstigdes, wat as deel van die grondhervormingsproses in die vroeë jare 2000 ’n stuk grond van vyf hektaar van die regering ontvang het, eis nou regsaksie teen drie van hul voormalige trustees wat binne ’n jaar glo meer as R600 000 se beweerde onreëlmatige transaksies uit die trust se bankrekening gedoen het.

Die groep, wat vandag bekend staan as die Franschhoek Claimants Trust, het destyds drie hektaar van die grond vir ontwikkelingsdoeleindes teen ’n bedrag van R1,2 miljoen verkoop.

Dié geld is toe in ’n bankrekening gehou, wat in daardie stadium deur die Stellenbosch-munisipaliteit bestuur is, het Gordon Pheiffer, ’n oud-Franschhoek-inwoner en een van die begunstigdes, aan Paarl Post vertel.

Volgens Pheiffer is die Franschhoek Claimants Trust in 2004 gestig en “dis toe dat die trust besit geneem het” van die R1,2 miljoen asook finale eienaarskap van die oorblywende twee hektaar grond.

Hy het verduidelik aangesien die begunstigdes die hele proses as ’n langtermynbelegging beskou en geglo het dat die geld veilig in die trustrekening sou wees, was daar sedert die trust se stigting in 2004 geen rede om onraad te vermoed nie.

Ek het op ’n advertensie vir die beplande ontwikkeling afgekom en toe dadelik beswaar ingedien. Ons as begunstigdes het nooit ingestem dat die oorblywende grond verkoop moes word nie.

In Augustus 2017, toe planne vir ontwikkeling op die oorblywende twee hektaar grond skielik aangekondig is, het Pheiffer vrae begin vra.

“Ek het op ’n advertensie vir die beplande ontwikkeling afgekom en toe dadelik beswaar ingedien.

“Ons as begunstigdes het nooit ingestem dat die oorblywende grond verkoop moes word nie.

“Ons het toe later uitgevind dat drie trustees, onder wie die destydse voorsitter, Benjamina Fray, en die tesourier van daardie tyd, Joan Japhta, ’n ooreenkoms met die maatskappy Surrey Holmes aangegaan het vir die ontwikkeling van die grond.

“Hulle het die transaksie deurgevoer sonder die wete van die trust en sy begunstigdes,” het Pheiffer verder verduidelik.

GELD VERDWYN GLO UIT TRUST REKENING

Pheiffer het toe by verdere ondersoek gevind dat die R1,2 miljoen nie meer in die trust se rekening is nie.

Hy het toe op 6 Desember 2021 ’n klag van bedrog teen die betrokke trustees by die Franschhoek-polisie aanhangig gemaak.

Nadat die polisie bewyse van ’n aantal beweerde transaksies geëis het, is bevind dat R639 335 net in 2009 uit die trust se rekening verdwyn het.

Die meeste van hierdie transaksies was tjek-uitbetalings wat enigiets tussen R50 000 en R89 000 beloop het.

Volgens Pheiffer het die Franschhoek-polisie die saak toe na sy eenheid vir handelsmisdaad in Bellville verwys.

Dit is hierdie eenheid wat in November verlede jaar beslis het dat die saak eintlik siviel van aard is en nie krimineel nie.

Pheiffer het verlede jaar met die hulp van die openbare beskermer se kantoor toegang tot die dossier gekry, wat Paarl Post ook onder oë gehad het.

Daarin het die destydse voorsitter Benjamina Fray aangevoer dat die transaksies vir instandhouding van die trust was.

DRIE ORGANISASIES BY BEWEERDE TRANSAKSIES BETREK

Volgens Fray is die tjeks uitgemaak aan onder meer Lexolo Waste Manage­ment Services, Franschhoek Live Craft Centre en Schoongezicht Restaurant in die Paarl.

Fray het aangevoer dat al drie hierdie organisasies vir hul dienste aan die trust in 2009 betaal is, wat deel uitmaak van die meer as R600 000 wat daardie jaar uit die trustrekening per tjek betaal is.

Sy het egter nie in haar verklaring aan die polisie genoem dat sy self aan die stuur van sake by die Franschhoek Live Craft Centre was nie, het Pheiffer benadruk.

Luidens die dossier wou die ondersoekbeampte by Fray se regsverteenwoordiger weet watter soort dienste hierdie drie organisasies aan die trust gelewer het.

“Wat is beplanningsbestuur en hoekom is hierdie hoë bedrae daarvoor betaal? Wie is hierdie mense en watter dienste het hulle aan die trust gelewer?

“Heelwat betalings is ook gemaak aan die Franschhoek Live Craft Centre. Hoekom is dit die geval?

“Wat doen hulle vir die trust?” het die ondersoekbeampte in ’n e-pos-navraag op 18 Januarie verlede jaar aan Fray se regsverteenwoordiger gevra.

Pheiffer sê tot vandag toe is daar geen tekens van die geld of waaraan dit volgens Fray bestee is nie.

“Ons mense het nie ’n sent ontvang nie. Baie van daardie begunstigdes is vandag al oorlede.”

Fray het nie vandeesweek teen publikasietyd op Paarl Post se navraag vir kommentaar gereageer nie.

Japhta, die trust se voormalige tesourier, het telefonies gesê sy verstaan nie die bewerings teen hulle nie en bygevoeg al die transaksies is ten bate van die trust gedoen.

Pheiffer het intussen volgehou dat die begunstigdes sal aanhou veg totdat die skuldiges tot verantwoording gebring word.

Hy sê met dié dat dit nou as ’n siviele aangeleentheid beskou word, sal die trust verskeie opsies oorweeg aangesien geld nie beskikbaar is vir private regsverteenwoordiging nie.

You need to be Logged In to leave a comment.