Die toneel in Groendal waar die slagoffer aan sy wonde beswyk het. Foto: Franschhoek First Responders
Die toneel in Groendal waar die slagoffer aan sy wonde beswyk het. Foto: Franschhoek First Responders

’n 18-jarige man van Franschhoek sal na verwagting Maandag (3 November) in die hof verskyn nadat hy en nog ’n verdagte wat steeds op vrye voet is, ’n man beroof en doodgesteek het.

Die voorval het Saterdag (1 November) in Groendal plaasgevind.

Volgens Kurt Maske, ’n paramedikus vir ER24, is die Franschhoek First Responders-groep omstreeks 10:00 Saterdagoggend na die toneel ontbied.

“Die Franschhoek First Responders-groep het met hul aankoms die gewonde slagoffer aangetref. Hulle het hom probeer stabiliseer maar hy het ongelukkig aan sy wonde beswyk en is op die toneel dood verklaar,” het Maske by navraag gesê.

Die provinsiale Metro EMS-ambulansdienste was ook op die toneel.

Kol. Frederick Rossouw, bevelvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, het die voorval by navraag bevestig.

“Twee persone het die slagoffer probeer beroof en hom gesteek. Hy het aan sy wonde beswyk.

“Die polisie het met die hulp van die gemeenskap een verdagte, ‘n 18-jarige man, aangekeer.

“Hy sal na verwagting Maandag (3 November) in die hof verskyn of sodra hy aangekla is.

“Die polisie is nog opsoek na die tweede verdagte,” sê Rossouw.

• Enigiemand met inligting kan die polisie se Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.