Van links staan Melvin Genuka van die Wes-Kaapse departement van landbou, Leandre Davids van die Franschhoek-toerismekantoor, Lindie-Allett van Staden van Anthonij Rupert-wynlandgoed, wat as die Franschhoek-landbouwerker van die jaar aangewys is, Cynthia Barnard van die Franschhoek-toerismekantoor en Chris Schutte van Shoprite. Foto: Morne Paulse


Die Wes-Kaapse departement van landbou in samewerking met die Franschhoek-toerismekantoor het verlede week hul jaarlikse landbouwerkerskompetisie vir die Franschhoek-streek gehou, waartydens landbouwerkers uit die streek met toekennings vereer is.

Die geleentheid is Vrydag (23 Augustus) by die Franschhoek-wynkelder gehou.

Lindie-Allett van Staden van die Anthonij Rupert-wynlandgoed het met die prys in die afdeling vir middelbestuur weggestap en is ook as die Franschhoek- landbouwerker van die jaar aangewys.

Die Anthonij Rupert-wynlandgoed is vanjaar asdie beste presterende plaas aangewys.

Van Staden het gesê sy het al op ’n jong ouderdom ’n liefde vir landbou ontwikkel. “As ek nie op die plaas is nie, ‘boer’ ek by die huis in my groentetuin. Landbou was maar van kleintyd af vir my baie belangrik. My ouma en my pa het my daaraan blootgestel.

“Die landboubedryf is baie uitdagend en dit is maar die geval op enige plaas. Ons stamp maar baie koppe, maar jy weet jou span is eintlik daar om jou te versterk.

“Plaasbestuurders is maar net so sterk soos die span onder hulle en as dit nie vir my span was wat my bystaan met alles op die plaas nie, sou ek nie vandag hierdie belonings vasgehou het nie.

“Die sukses op ons plaas word alles aan spanwerk toegeskryf,” het sy gesê.

Melvin Genuka, verbonde aan die departement van landbou in die Wes-Kaap, het dié departement se betrokkenheid by die kompetisie aan Paarl Post verduidelik.

“Hierdie kompetisie is in 2002 begin. Die landboudepartement in die provinsie het in 2005 betrokke geraak. Die hele idee hieragter is om erkenning aan ons landbouwerkers te gee.

“Daar is 15 streke oor die provinsie heen waarvan in 11 afdelings meegeding kan word.

“Elke eersteplek-wenner in elk van die 11 afdelings gaan op 19 September teen die ander 14 streke deelneem.

“Ons wil landbouwerkers erkenning gee vir die waardevolle werk wat hulle in ons samelewing doen. Landbou is ’n baie belangrike bedryf wat ons drie keer per dag benodig – wanneer ons ontbyt, middagete en aandete geniet.

“Hierdie is dus een van die belangrikste sektore in die land. Ons landbouwerkers vervul ’n waardevolle rol in ons voedselketting,” het Genuka verduidelik.

Volgens Leandre Davids van die Franschhoek-toerismekantoor was daar vanjaar altesaam 70 deelnemers uit die landbousektor in die Franschhoek-streek.

“Dit is vir my ’n riem onder die hart om te sien hoe ons landbouwerkers in hierdie kompetisie vereer word.

“Tydens die onderhoude kon jy sien hoe passievol hulle praat oor die werk wat hulle doen.

“Wat vir my uitgestaan het, is dat hulle hul werk baie goed ken. Ons sal graag wil sien dat meer plase hul werkers vir toekomstige kompetisies inskryf. Ons moet vir hierdie werkers meer blootstelling en erkenning gee,” het sy gesê.

Die wenners in die 11 afdelings was soos volg:

  • Algemene werker: Ricardo Timotheus, Rietvlei
  • Drywer: Jeffrey Absalom, Waterval Boerdery
  • Besproeiingspesialis: Ricardo Visser, L’Ormarins
  • Tegniese operateur: Abraham Gertse, Anthonij Rupert Wyne
  • Gemeenskapsontwikkeling: Francisca Blankenberg, La Motte
  • Diereproduksie: Emsie Stuurman, Drakenstein Stud
  • Landbouverwerking: Christopher Dreyer, Anthonij Rupert Wyn
  • Administratiewe personeel: Meagan Robinson, Franschhoek Cellar
  • Voorman/-vrou: Jonathan Kock, Rickety Bridge
  • Junior bestuur: Deon Samuels, Boschendal
  • Middelbestuur: Lindie-Alett vanStaden, Anthonij Rupert Wyne

You need to be Logged In to leave a comment.