Sowat 300 Groendal-inwoners, onder wie skoolleerders, het Dinsdag (1 Julie) ‘n vreesame optog voor die Franschhoek-polisiekantoor gehou waartydens hulle onder meer vir dringende strafregtelike optrede teen beweerde seksuele oortreders in die gebied gevra het.
Een so ‘n beweerde oortreder is ‘n geskorste onderwyser en pastoor, vermoedelik in sy 50’s, wat in 2017 vir die seksuele molestering van ‘n minderjarige skoolmeisie aangekla is en ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar in die Paarl-streekhof ontvang het.
Volgens vorige mediaberigte het die tienermeisie se ma bevestig dat sy swanger geraak en toe later ‘n miskraam gehad het.
Die tiener se ma het Dinsdag se demonstrasie bygewoon.
Nuwe bewerings teen die geskorste onderwyser het intussen aan die lig gekom. Hy word daarvan beskuldig dat hy sedert sy skuldigbevinding in 2017 seksuele verhoudings met minstens vyf ander skoolmeisies gehad het.
Die man se identiteit is aan Paarl Post bekend, maar word weerhou om die beweerde min- derjarige slagoffers te beskerm.
Paarl Post verneem dat videos ook onlangs op sosiale media versprei is waarin die geskorste onderwyser met ‘n tienermeisie in haar skooldrag seksueel verkeer.

‘n Plaaslike aktivis het by navraag gesê hoewel die man se gesig, asook dié van die tienermeisie, nie in die video sigbaar is nie, kan hy deur sy stem geïdentifiseer word. Die aktivis sê dit is moeilik om te bepaal wanneer die video geneem is. Die video is na die polisie se afdeling vir kubermisdaad verwys.
Volgens haar is die gemeenskap ook woendend dat die geskorste onderwyser en pastoor ondanks sy vorige oortredings glo toegelaat is om leerders te vervoer.
Paarl Post kon teen druktyd nie bevestig of die beskuldigde se vervoerdienste deur die onderwysdepartement goedgekeur is nie.
Adam Cloete, ‘n Groendal-inwoner en organiseerder verbonde aan die Group of Concerned Citizens (GCC), sê die gemeenskap besef dit is moeilik vir die ander beweerde slagoffers om na vore te kom.
“Ons moedig hulle egter aan om te praat. Hier is mensehandel en seksuele voorbereiding van minderjariges ter sprake. Dit is ernstige bewerings teen ‘n man wat al voorheen aan soortgelyke wangedrag skuldig bevind is.
“Een van die goed waarvoor ons vandag vra, is vir ‘n deeglike ondersoek, veral vanuit ‘n kubermisdaad-oogpunt. Ons is bewus van die bewerings dat video-opnames gemaak is,” sê Cloete.

Genl.-maj. Sizakhele William Dyantyi van die provinsiale polisiekatoor het die memorandum ontvang. Hy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om met meer inligting oor die bewerings na vore te kom.
“Ons kan nie mense in hegtenis neem en dan eers ons ondersoek doen nie. Ons moet eers genoeg inligting insamel voordat iemand aangekla word, anders word hulle môre weer vrygelaat,” sê hy.
Die memoramdum het al meer as 700 handtekeninge ingewin.
Inwoners eis onder meer strenger borgtogvoorwaardes wanneer dit by die mishandeling, verkragting of seksuele uitbuiting van kinders kom, en dat opvoeders, mediese personeel, maatskaplike werkers en ander professionele mense ingevolge die Kinderbeskermingswet aanspreeklik gehou word.
Hulle vra ook dat die saak na die direktoraat vir prioriteitsmisdade (Valke) verwys word.
You must be logged in to post a comment.