Die Drakenstein-munisipaliteit het Wêreldbrandbestrydersdag, wat jaarliks op 4 Mei plaasvind, die afgelope Saterdag in styl gevier en ‘n gedenkwaardige huldeblyk aan brandbestryders van oral gebring.
Wêreldbrandbestrydersdag word jaarliks gevier om hulde te bring aan die brandbestryders wat hul lewe in gevaar stel om hul gemeenskappe te beskerm.
Die naweek se plaaslike verrigtinge het met ‘n motorstoet van verskeie branddienste- en reddingswerkers van onder meer die Stad Kaapstad, Stellenbosch, Swartland, Overberg en die groter Wynland-distrik begin.
Die stoet het in Wellington begin en die rit is gevolg deur ‘n spanuitdaging vir brandbestryders by die Paarl Mall.
Benewens die motorstoet en kompetisie, was daar uitstallings en demonstrasies deur onder meer die munisipaliteit se brand-en-reddingsdienste sowel as Paarl-nooddienste.
Die span van Paarl-nooddienste het in samewerking met ER24 vir die skare ‘n demonstrasie uitgevoer van hoe onge- lukstonele behartig word.
Die bekende Paarlse reddingswerker Donovan van Schoor, wat meer as 30 jaar se ervaring in die brandweer-en-nooddienste het, was deel van die plaaslike uitsnydienste wat aan die skare gewys het watter belangrike rol hulle speel om ‘n ongelukstoneel vir beide die beseerdes en reddingswerkers veilig te verklaar.
Van Schoor was een van drie reddingswerkers uit die Kaapse Wynland- distrik wat Suid-Afrika verlede jaar by die World Rescue and Extrication Challenge (WREC) in Portugal verteenwoordig het.
Die brandbestryders het Saterdag hul uitsonderlike vaardighede, deursettingsvermoë en vasberadenheid in die kompetisie ten toon gestel – onder groot toejuiging van die toeskouers.
Die dag het op ‘n hoogtepunt geëindig met ‘n gala en prysuitdelingseremonie in die Paarl-stadsaal, waar die wenners beloon is vir hul indrukwekkende prestasies vroeër die dag.
Lorenzo Arendse, die burgemeesters- komiteelid vir elektrisiteit, water en afvalwater, het op die dag namens die burgemeester gesê: “Ná een van ons besigste brandseisoene tot dusver – én ná soveel rampe weens oorstromings, windstorms en uiterste weersomstandighede – is dit ‘n eer en ‘n nederige ervaring om hierdie dag saam met só ‘n toegewyde, hardwerkende span in Drakenstein te vier.
“Terwyl ons lekker by die Wellington-liggiesfees gekuier het, het hierdie helde dwarsdeur die nag gewerk en een van die ergste brande wat Drakenstein in jare gesien het, bestry.
“Ek kan net raai wat dit verg om die basiese menslike instink van selfbeskerming te oorwin. Hierdie mense gaan gevaar tegemoet eerder as om daarvan weg te vlug om ander te red . . .
“Hulle is van die wêreld se beste en dapperste nooddienste en professionele mense.”









