Haar bruilof was soos iets uit ’n sprokiesverhaal, maar wat dit selfs meer spesiaal gemaak het, was om haar geliefde ouma op 100-jarige ouderdom as een van haar blommemeisies te kan hê.
Só het ’n Paarlse bruid, Vanessa Raath, vandeesweek vertel nadat sy en haar man, Danie, die afgelope naweek ewige trou aan mekaar beloof het.
Sy was bevoorreg om haar ouma Gladys Joubert, wat verlede maand haar 100ste verjaarsdag gevier het, tesame met haar ma, Charlotte Engelbrecht, en skoonma, Rachel Raath, as blommemeisies op dié spesiale dag te kon hê.
“Ouma is nou nog spraakloos. Sy sê net dit was vir haar verskriklik lekker en dit was vir ons ook ’n baie groot belewenis.
“Sy sê dit het vir haar die heeltyd onwerklik gevoel – asof sy in ’n droom is.
“Die gaste sê ook dit was ’n besonderse troue – heeltemal uniek. Vir my en Danie was dit ook die lekkerste bruilof wat ons nog bygewoon het,” het Raath vandeesweek gesê.
“Vir my was dit ’n ongelooflike groot eer om die oggend saam met Ouma te kon klaarmaak. Sy het eintlik die vrolikheid in die vertrek gebring met haar snaakse grappies terwyl ons foto’s geneem het.
“Sy het my en Danie ná die tyd bedank vir die geleentheid en genoem dat ons vir haar ’n nuwe rede gegee het om te lewe. Sy sê sy sien vreeslik uit na ons ‘kleintjies’,” het Raath laggend gesê.
Ouma Gladys het Vrydag (15 November) ’n dag voor die troue, aan Paarl Post gesê sy het aanvanklik gedink Vanessa was besig om die gek met haar te skeer toe sy haar vra om blommemeisie te wees.
“Sulke goed is mos nie vir oumense nie. Ek het gedink sy sal dalk een van haar beste vriende kry.
“Ek het vir haar gesê my kind, ek kan nie eens ordentlik loop nie. Sy het aangedring dat dit vir haar ’n eer sal wees as ek die rol op die dag vervul.”
Ouma Gladys het toe al vir Vanessa gesê sy gaan nie geld op ’n nuwe uitrusting uitgee nie.
“Ek het gesê ek sal die klere dra wat ek het. Ek sou toe ’n kortbroekpak dra, maar dit was te kort. Ons het toe op ’n langbroek besluit.”
Vanessa het gesê haar ma en ouma was nog altyd haar regter- en linkerhand en sy is dankbaar sy kon hulle op hierdie wyse vereer.
Charlotte, haar ma, het gesê sy is bly haar dogter het’n man soos Danie ontmoet.
“Hulle albei is na aan die Here en dis al wat ’n mens in jou lewe nodig het – om saam in God se woord te leef. Die res sal dan bygevoeg word – liefde; blydskap; vreugde. ’n Mens voel oorweldig. My babadogtertjie gaan nou ’n mevrou word. Sy is nie meer ’n Engelbrecht nie, maar ’n Raath,” het ’n emosionele Charlotte gesê.