‘n Merkwaardige vrou soos Celeste Klem val nie net uit die lug uit nie. Inteendeel – sy is gevorm deur die vroue wat jare lank ‘n pad met haar gestap en haar ondersteun het om ‘n goeie lewe vir haarself uit te kerf.

“My ouma Catherine Martin – ek is na haar genoem, want my tweede naam is Catherine – het onlangs haar 99ste verjaarsdag gevier. Toe ek haar vra wat is die geheim vir ‘n lang lewe, toe sê sy my ‘eer jou vader en moeder en jou dae sal verleng word’. Dis hoekom dit vir my so spesiaal is dat my eie ma, Desiree Martin, nog in my lewe is. Sy is my inspirasie. Sy is die een mens wat my die beste ken – vandat ek gebore is.”

Klem, wat die mede-eienaar is van Hotel du Vin en Café du Vin in Franschhoek, trek krag uit haar ma se veerkragtigheid waarvan sy van jongs af ‘n getuie is.

“Ek het grootgeword en gesien hoe my ma deur baie moeilike omstandighede steeds haar kop hoog hou. Sy het my geleer om sterk te wees en om as kind al te weet dat ek onafhanklik moet wees. Sy’t my al op 16 jaar geleer bestuur en ek’t op 18 jaar my rybewys gekry.

“Ek is baie dankbaar vir my ma – ek eer en ek respekteer haar. Ek sal ook berge klim vir haar. Dan is daar ook my twee susters, Hilary Steenkamp en Deidre Williams. Ek aanvaar baie raad van hulle en ek waardeer hulle. Hulle is ook my grootste cheerleaders en sal my altyd aanmoedig om voort te gaan met die goeie werk wat ek doen. As ek af voel, dan sal hulle my oplig en my met hul oneindige liefde weer sterk maak. Ek is baie geseënd.”

Vandag spog Klem trots met ‘n suksesvolle loopbaan in die gasvryheidsbedryf. Sy het al verskeie toekennings ontvang, onder meer vir Bestuurder van die Jaar, maar dit het nie maklik gekom en net in haar skoot geval nie.

“Ek was maar nog altyd ‘n kreatiewe kind wat altyd dinge gedoen het wat my bang gemaak het. Ek dink dit het my sterk gemaak vir die sakewêreld. Dus, om hard te werk, is natuurlik vir my. Ek geniet baie wat ek doen in my werk en om ‘n invloed in ander mense se lewe te hê, is vir my baie spesiaal. Ek het elke dag in my leiersposisie die geleentheid om mense se lewe te verbeter en soms te kan verander. Dit is nie ‘n maklike bedryf nie. Die geheim is eenvoudig – om suksesvol te wees, moet jy kan hard werk, ‘n goeie hart hê en goeie dinge doen. ‘n Mens kry nie sukses op ‘n goue skinkbord nie; jy moet dit maar verdien.

“Ek is vanjaar as Best Newly Appointed General Manager in Africa 2025 aangewys. Toe weet ek, dit kan mos net die Here wees. Want ek het vir nie een van hierdie toekennings ingeskryf nie. Dit is dus vir my baie spesiaal dat ek op ‘n nasionale en inter-kontinentale vlak vereer word.”

Volgens Klem, wat oorspronklik van die Paarl is, maak sy dit haar missie as leier in die werkplek om toe te sien dat haar kollegas met respek hanteer word. Voordat sy in die posisie gekom het waar sy vandag is, onthou Klem daar was ‘n tyd toe sy in ‘n toksiese werksplek gewerk het.

Sy vertel sy is geboelie, stief behandel en die verwagtinge was onredelik. Dit het so erg geword dat sy ‘n ineenstorting gehad het en angs is by haar gediagnoseer.

“Dit was vir my een van die moeilikste dinge om met die publiek te werk, want dit was vir my en my gesin iets wat ons in privaatheid hanteer het. Toe ek eers uit daardie werk is en my nuwe werk begin, toe begin my genesing. Ek het baie goeie lesse geleer. Ek het myself belowe as ‘n leier in die werkplek sal ek nooit my werkers bloot-

stel aan wat ek gesien het nie en as ek vandag na my werknemers by die Hotel en Café kyk, kan ek met trots sê ek het my belofte aan myself gehou.”

Sy is ook die trotse vrou van Anri en ‘n goeie ma vir Zachary.

“My man, Anri Klem, bestuur ons onderneming, C&S Digital Media, wat hier in die Paarl in klank spesialiseer. Ons seun, Zachary, is 14 jaar oud en op hoërskool. Ons maak dit ‘n doelwit om saam te bid en saam kerk toe te gaan. God bind ons as ‘n gesin en dit is vir my baie spesiaal. Dit maak my hart vol en ek glimlag behoorlik as ek van hulle tweetjies praat.”

Te midde van Vrouemaand wil Klem ander vroue bemoedig om te fokus op die taak wat voor hulle lê.

“Moet jou nie steur aan mense wat jou wil afkraak of afbreek nie.

“Bly gefokus op God se plan vir jou lewe en moenie bang wees nie. Doen wat in jou hart is. Doen wat goed is, en goeie dinge sal met jou gebeur.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article