Met verlede week se taxigeweld is histerie weer gesaai deur middel van fopnuus op talle sosialemediaplatforms.

Terwyl gemeenskappe eerder moes saamstaan teen ’n gemeenskaplike vyand, het ’n ander magtige vyand die spanning opgejaag.

Kom ons stel dit blatant: dis net idiote wat sulke valse nuus versprei, veral op sosiale media.

Dit word ook nie noodwendig uit onkunde gedoen nie. Baie is moedswillig en sommige selfs kwaadwillig. Talle van die gepeupel wil ook net hul stemme eerste op ’n platform laat hoor.

Fopnuus het sy kop lelik uitgesteek tydens die Covid-19 pandemie en het op verskeie vlakke tot histerie gelei.

’n Ander voorbeeld van wat ook as fopnuus bestempel kan word, is die heen-en-weer sosialemediaboodskappe oor die penarie wat by die derby by die Faurestraat-stadion afgespeel het omdat HJS en Gim se logos steeds op die velde geverf was en nie betyds verwyder is nie.

Die rassekaart is weer hier op sosiale media gebruik, om een of ander verskoning te soek vir iemand se onbeholpenheid.

Die rassekaart is hier heeltemal onvanpas en mense behoort eerder te fokus op wie die finale inspeksie van die Faurestraatveld moes doen voordat die derby afgeskop het.

You need to be Logged In to leave a comment.