Carla Galante Vontez, 'n fopdosser van Wellington, is een van die top-13-finaliste vir Miss Drag South Africa.
Carla Galante Vontez, ‘n fopdosser van Wellington, is een van die top-13-finaliste vir Miss Drag South Africa.

Die 28-jarige Carla Vontez van Wellington sê haar plek as een van vanjaar se Miss Drag South Africa-finaliste bring haar ‘n tree nader aan haar groter doel – om die stigma rakende die LGBTQI+-gemeenskap te help afbreek.

Vontez is een van 13 finaliste van oor die land heen wat op 6 Desember by ArtsCape in Kaapstad om die kroon gaan meeding. Vir haar is die ervaring nog amper onwerklik.

“Die gevoel is oorweldigend. Ek het nooit gedink ek sal só ver kom in ‘n internasionaal erkende drag-skoonheidskompetisie soos Miss Drag South Africa nie,” sê sy.

Sy beskryf die kompetisie as ‘n platform wat deelnemers soos sy bemagtig om hulself outentiek uit te druk.

“Om Wellington en die hele Kaapse Wynland te kan verteenwoordig, is regtig ‘n groot voorreg,” sê sy.

Haar reis in drag-bekronings het in 2019 momentum gekry toe sy aan Miss Drag Boland deelgeneem en dit tot in die Top-5 gemaak het.

Vontez vertel dat die gemeenskap waarin sy grootgeword het, destyds nie veel begrip vir drag of die LGBTQI+-gemeenskap gehad het nie.

“My gemeenskap was eerlikwaar onopgevoed oor hierdie dinge. As mens het ek gevoel ek wil dit my werk maak om hulle op te voed.

“Ek moes my kop hoog hou en my ware self met trots uitleef,” sê sy.

Sy beklemtoon dat haar naaste mense ‘n belangrike rol in haar selfvertroue gespeel het.

“My familie het my nog altyd ondersteun. Hulle is die fondasie waarop my karakter gebou is. Sonder hulle sou ek nie die mens wees wat ek vandag is nie.”

Met die eindronde om die draai, rig Vontez ook ‘n spesiale boodskap aan haar gemeenskap.

“Ek vra dat hulle nie net vir my kom ondersteun nie, maar ook die breër LGBTQI+-gemeenskap. Dis vir my ‘n groot prestasie om só ver te kom, maar ek wil hê mense moet verstaan dat ek nie alleen loop nie. Dit is húl stem, húl kreatiwiteit, húl respek en elke individuele bydrae wat my dra.”

Sy hoop haar deelname sal ander inspireer om sonder skaamte hul identiteit te omarm – en om ruimte te skep vir almal om dieselfde te kan doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article