“Enigiemand kan ’n wingerdstok knip, maar dit neem ’n ware kunstenaar om die stok te vorm,” sê Jaco Engelbrecht van Visual Viticulture wat onlangs die beoordelaar was by die Felco- snoeikompetisie vir studente en leerders by die Hoër Landbouskool Boland.
In die interskole afdeling was Marius Smith van Augsburg Landbougimnasium eerste, Leighton Lombaard van die Hoër Landbouskool Boland tweede en Eduard van Zyl van Augsburg derde.
Engelbrecht het gesê beoordeling tydens die kompetisie is gegrond op tegniese vaardighede – nie spoed nie.
“Spasiëring van draers, aantal oë per draer, hoogte van snit bokant draer-ogie, hoogte van snit op 2-jaar hout, onderskeid tussen dik en dun lote, looddikte by snit, doeltreffendheid van Cazenave of halflang draers, toelating vir vernuwing, toemaak van gapings en skoon en gladde snit is beoordeel.”
Felco se hoofdoel met die kompetisie is om erkenning te gee aan alle snoeiers wat hierdie moeilike, maar absoluut noodsaaklike taak moet uitvoer.
Gemiddeld 8 000 tot 15 000 snitte per dag word deur ’n wingerdsnoeier in Suid-Afrika gedoen. Opleiding van agriwerkers en om dosente by akademiese instellings by te staan met praktiese snoeiwerksessies en kompetisies is die eerste prioriteit.
“’n Gelukkige, opgeleide snoeier is ’n baie goeie bate vir enige produsent.”
Daar kan met trots gesê word Felco was die eerste snoeitoerustingvervaardiger om amptelike snoei- en onderhoudsopleiding te begin en snoeikompetisies te reël. Dit is met die hulp en advies van wingerdboukundiges en akademiese instellings in die bedryf gedoen.
Waarom snoei- en snoeiskêropleiding en snoeikompetisies?
Daar is gevind die meeste werkers het nie regtig verstaan waarom word gesnoei nie en wat die gevolge van ’n verkeerde snit is nie. Ook by akademiese instellings is daar nie altyd genoegsame tyd beskikbaar vir die praktiese gedeeltes van snoei nie.
Met die eerste snoei-opleiding en snoeikompetisie wat in 2010 aangebied is met die hulp van die ontslape ikoon prof. Eben Archer, is besef daar is ’n groot behoefte aan snoei-bewusmaking en verskeie partye, insluitend VinPro, het betrokke geraak by die organiseer en bestuur van sulke kursusse vir die wynbedryf.
Dit het later aanleiding gegee tot opleiding deur middel van video’s en kursusmateriaal wat die produsent se taak baie vergemaklik deurdat hulle dit self kan aanbied volgens die nuutste navorsing oor snoeimetodes in die bedryf.
Die opleiding het reeds na alle sektore uitgebrei. Van tuinmaak tot die vrugtebedryf is daar kursusse om snoeiers en produsente te help. Snoeikompetisies het elke jaar toenemende belangstelling gelok.
Die eer om as die beste snoeier aangewys te word, was die erkenning en beloning vir werkers, studente en leerders vir hul vakmanskap en tegniese vaardighede.
’n Intervarsity vind nou ook tussen die onderskeie akademiese instellings in die Wes-Kaap plaas. Die Universiteit Stellenbosch, Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut en die Kaapstadse Universiteit van Tegnologie ding mee om die Duellum Putatio-wisseltrofee. Die Hoër Landbouskool Boland en Augsburg-landbougimnasium het ook aan die eerste Landbou Interskole-snoeikompetisie deelgeneem.
Prysgeld ter waarde van R20 000 was op die spel.


