Paarliete het Vrydagaand (2 Junie) baie vrae gehad of ’n groot partytjie iewers in die dorp aan die gang is met flikkerende ligte in die lug wat tot in die verte gesien kon word.
Dit het gelyk asof dit groot diskoteekligte is, maar ’n betroubare bron het egter aan Paarl Post onthul dit was bloot sporadiese brande op die spoorlyn tussen die N1- en die Lady Greystraat-brûe.
Volgens die bron het die plaaslike brandweer om 22:44 ’n oproep ontvang van die geaffekteerde dele van die spoorlyn tussen die N1- en die Lady Greystraat-brûe wat besig was om te brand.
“Inligting wat Spoornet op die toneel verskaf het, was dat oorhoofse hoogspanningslyne op die spore beland het, wat hierdie sporadiese brande veroorsaak het. Spoornet se brandweerdiens, verkeersbeamptes, die polisie en lede van private veiligheidsdienste was op die toneel.”
Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het die inligting gestaaf wat die betroubare bron verskaf het.
“Met ons aankoms op die toneel het ons gevind dat sporadiese elektriese brande op die spoorlyn aan die gang was. Die oorhoofse kragdrade het op die spoorlyn (stawe) beland en die brande veroorsaak. Die gebied van die Ceciliastraat-brug (N1) tot by die Lady Greystraat-brug is afgebaken. Spoornet se eie tegnici was op die toneel, tesame met ons brandweer- en verkeersdienste.”
Daar word vermoed die brande hou verband met kabeldiefstal.
Zinobulali Mihi, ’n woordvoerder van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), sê: “Volgens die inligting wat ons ontvang het, is die oorhoofse drade gevandaliseer en het dit ’n panto-haak veroorsaak weens die laaghangende drade. Panto verwys na die boonste gedeelte van ’n trein. ’n Panto-haak is ’n geval wanneer die boonste deel van ’n trein by die oorhoofse drade inhaak.”
Die omvang van die skade kon nog nie vasgestel word nie.
’n Ondersoek na die sporadiese brande is deur Prasa van stapel gestuur.
Mihi het bevestig “treine kan nie loop voor die herstelwerk aan die drade voltooi is nie”.