Inwoners van Paarl het verskeie videos op sosiale media gedeel van die “flikkerende ligte”.


Paarliete het Vrydagaand (2 Junie) baie vrae gehad of daar ’n groot partytjie aan die gang is op die dorp met flikkerende ligte wat in die lug tot in die verte gesien kon word.

Dit het voorgekom asof dit groot diskoteekligte is, maar ’n betroubare bron het egter aan Paarl Post onthul dat dit sporadiese brande was op die spoorlyn tussen die N1 en die Lady Greystraat-brûe.

Volgens die bron het die plaaslike brandweer omstreeks 22:44 ’n oproep ontvang van die geaffekteerde dele van die spoorlyn tussen die N1 en die Lady Greystraat-brûe wat besig was om te brand.

“Inligting wat Spoornet op die toneel verskaf het, was dat oorhoofse hoogspanningslyne op die spore beland het wat hierdie sporadiese brande veroorsaak het. Spoornet se brandweerdiens, verkeersbeamptes, polisie en private veiligheidsdienste was op die toneel.”

Daar word vermoed dat die brande verband hou met kabeldiefstal. Die bron het verder bygevoeg dat Spoornet nie verdere inligting oor die sporadiese brande verskaf het nie.

*Hierdie is ’n ontwikkelende storie.

You need to be Logged In to leave a comment.