Ouers van leerders aan New Orleans Primêr is woedend omdat hulle tot nou nog geen terugvoering ontvang het van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) oor bouwerk wat by die skool afgehandel moet word nie. Intussen word die skoolgebou nou deur boewe en vandale geplunder.

Die WKOD het die skoolgebou van New Orleans Primêr in Augustus vanjaar onveilig verklaar. Leerders ontvang sedertdien onderrig by nabygeleë skole en word met busse, wat deur die departement gereël is, na dié skole vervoer. Onderwysers moet ook by hierdie skole aanmeld. Dié skole sluit in Amstelhof Primêr, Orleansvale Primêr en Nieuwedrift Primêr.

Die departement kon nog nie aan Paarl Post bevestig presies hoeveel geboue van die skool onveilig verklaar is nie.

Navrae is aan die einde van November aan die departement gerig oor die jongste verwikkelinge oor wanneer bouwerk sal begin en wanneer die leerders weer sal terugkeer na hul skool.

“Sodra amptelike kommunikasie aan die beheerliggaam gestuur is, sal ons oor die skool se infrastruktuurplan kan kommunikeer,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, hierop geantwoord.

Paarl Post het egter nie enige verder terugvoer hieroor ontvang nie. ’n Navraag is ook verlede week aan die departement gerig oor die plundery wat by die skool aangaan en om ouers se bekommernis onder hul aandag te bring.

Hammond het egter gesê die brief, wat aan die hoof van die departement gerig is, is nog nie geteken vir goedkeuring nie.

“Die WKOD finaliseer tans planne vir New Orleans en sy infrastruktuurontwikkeling. Kommunikasie sal aan die skool gestuur word sodra dit goedgekeur is. Ons verstaan die dringendheid in hierdie verband. Ongelukkig was die vertraging in kommunikasie as gevolg van die fiskale noodtoestand wat Suid-Afrika in die gesig staar,” het Hammond gesê.

Volgens Hammond het die departement se planne vir infrastruktuurontwikkeling in Junie vanjaar tot stilstand gekom toe die nasionale tesourie aangedui het die Wes-Kaap se provinsiale finansiering sou ernstig besnoei word.

“Die nasionale tesourie het besluit om nie al die finansiering, wat aan ons provinsie verskuldig is, te verskaf om die loonverhoging wat hy vir staatsdiens beding het, in hierdie boekjaar te dek nie.

“In plaas daarvan sal ons departement net 64% van die finansiering, wat aan ons toekom, ontvang. Dit beteken ons word met R537 miljoen gekortwiek.”

Hammond meen die besnoeiings het die departement se vermoë om skole te bou en in stand te hou, en om onderwysers te betaal, ’n massiewe knou toegedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article