‘n Ondersoek duur voort na bewerings van onreëlmatighede teen Conrad Poole, die uitvoerende burgemeester van Drakenstein-munisipaliteit.


’n Onafhanklike ondersoek deur ’n regsfirma, wat deur die Drakenstein-munisipaliteit se Speaker aangestel is te midde van bewerings van korrupsie teen sy eerste burger, het “prima facie-bewyse” gelewer dat Conrad Poole glo wel sekere gedragskodes vir raadslede oortree het, en ’n interne tugkomitee sal nou deur die munisipale raad gestig word om die bevindings van dié ondersoek behoorlik na te gaan.

Paarl Post het vroeër berig die ondersoek spruit uit aantygings deur die GOOD-party in die munisipaliteit, wat Poole en van sy burgemeesterskomiteelede betrek by wat die party bestempel as ’n “betaal-vir-werk”-skema.

Keagen Gertse, ’n GOOD-raadslid wat die bewerings namens die party in Augustus aan die raad voorgelê het, kon by vorige navraag nie aan Paarl Post sê wat presies die skema-bewerings behels, hoeveel geld betrokke is en watter van Poole se burgemeesterskomiteelede daarby betrek word nie.

Die onafhanklike regsfirma is op 15 September vanjaar deur Koos le Roux, die raad se Speaker, opdrag gegee om die bewerings te ondersoek en binne 30 dae ’n verslag te lewer.

Op Vrydag (27 Oktober) se raadsvergadering het dit geblyk die uitslae van die ondersoek het wel die speaker se kantoor bereik toe raadslede van verskeie opposisiepartye die eerste uur van die vergadering gebruik het om te eis dat die speaker die verslag bekend maak.

Le Roux het egter volgehou Poole is die enigste een wat in hierdie stadium die uitslae van die ondersoek sal ontvang, en dit “sal nie in dié stadium” aan die raad of die publiek vrygestel word nie.

“Die raad het meer inligting nodig sodat ’n ingeligte besluit oor hierdie verslag geneem kan word. Ek sal seker maak dat die raad van hierdie inligting voorsien word. Weens die sensitiwiteit van die saak asook weens die feit dat die identiteit van getuies nie aan my kantoor bekend gemaak is nie, kan geen verdere inligting oor die verslag bekend gemaak word nie,” het Le Roux op die raadsvergadering gesê.

Gertse het na afloop van Vrydag se raadsvergadering in ’n verklaring gesê Poole het luidens die regsfirma se verslag na bewering afdeling 2 (a) en (b) van die gedragskode vir raadslede oortree.

“Hierdie afdelings verwys na die algemene gedrag van raadslede en die beskerming van die beeld van die kantoor waartoe amptenare verkies word. Daar is ook sprake dat die uitvoerende burgemeester afdeling 7 en 12 oortree het, wat onderskeidelik verwys na persoonlike gewin en inmenging by administratiewe prosesse.”

Die Speaker het Dinsdag by verdere navraag aan Paarl Post bevestig Poole sal voor ’n interne tugkomitee verskyn om die bewyse teen hom te verduidelik.

“Die verslag is aan Poole oorhandig vir hom om te reageer op die prima facie-bewyse te midde van die bewerings.

“Die verslag sal dan ook aan ’n onafhanklike inisieerder verskaf word vir hom/haar om ’n klagstaat op te stel [indien nodig] en die beskikbare bewyse by die tugverhoor voor te lê.

“Die bevindings en aanbevelings van die tugkomitee sal aan die raad voorgelê word.

“Die raad hanteer nie die meriete van beweerde oortredings nie en moet wag vir die uitslae van die interne verhoor,” het Le Roux aan Paarl Post gesê.

GOOD het intussen die verslag en die raad se besluit om Poole voor ’n tugkomitee te laat verskyn, verwelkom.

“Ons glo dat die bewyse deur middel van die tugkomitee getoets kan word,” het Gertse gesê.

“Indien die burgemeester wel skuldig bevind word, moet daar ernstig teen hom opgetree word.

“GOOD verwelkom die besluit in die naam van geregtigheid, aanspreeklikheid en weens die feit dat ons nie korrupsie sal duld nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.