’n Daaglikse fooi van enigiets tussen R40 en R70. Dit is hoeveel karwagte by die Paarl Mall glo aan ’n private veiligheidsmaatskappy moet betaal indien hulle ’n spesifieke deel van die parkeerterrein wil beman, terwyl baie van hulle op ’n gemiddelde dag nie eens die helfte van hierdie geld deur middel van ’n fooitjie van motoriste maak nie.
Paarl Post het dié bewerings ondersoek nadat ’n prokureur en aktivis wat in omgewings- en menseregte-kwessies praktiseer, dit onder die publikasie se aandag gebring het.
Die bewering is die wagte moet die daaglikse fooi aan die veiligheidsmaatskappy, wat blykbaar deur die Paarl Mall aangestel is, betaal.
Wagte wat versuim of nie betyds betaal nie, word heeltemal weggewys – ’n optrede wat deur sommige wagte as “mafia-tendense” bestempel word.
Die aktivis het op voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê die karwagte word na haar mening uitgebyt, veral gegewe die “erge omstandighede” waaraan hulle daagliks blootgestel word.
“Hierdie firma trek voordeel daaruit om karwagte in die parkeerterrein te hê en die werk te doen wat eintlik hulle (die firma se) verantwoordelikheid is. Indirek vind die Paarl Mall ook daarby baat. My groot kommer is egter wat van hierdie geld word. Waarheen gaan dit en word dit belas? Indien nie, kyk ons hier na belastingontduiking.
“Maar dit is nie die punt nie. Die feit dat karwagte moet betaal om te kan werk, is wat my stomslaan. Hulle gaan partye dae sonder ’n sent huis toe nadat hulle vir ure in die son moes brand. Boonop is daar motoriste wat net blatant ‘rou’ is en hulle sleg behandel – dit terwyl hul daar is om seker te maak jy en jou eiendom is veilig.”
Sy sê sy het al op verskeie geleenthede by die winkelsentrum probeer vasstel of die karwagte wel by die owerheid van die private sekuriteitsbedryf (Psira) geregistreer is en as werknemers by die betrokke veiligheidsmaatskappy beskou word.
“Indien hulle wel deur die firma aangestel is, beteken dit hulle sal by Psira geregistreer moet wees – ’n verantwoordelikheid wat by die firma berus. Wat dit egter ook beteken, is dat hulle soos enige ander werknemer behandel moet word. Dit kan dus nie van hulle verwag word om (vir werk) te betaal nie. ’n Werknemer wat sy werkgewer vir werk moet betaal, beteken dit is bedrog.”
Psira het teen druktyd nog nie op Paarl Post se navraag hieroor gereageer nie.
Volgens die prokureur het die Paarl Mall haar vrae ontduik en haar eerder na hul regsverteenwoordiger verwys.
Die winkelsentrum sê wel in sy terugvoering aan haar dat die fooie wat karwagte moet betaal, ’n “standaard praktyk” is.
Sy sê vanuit haar gesprekke met die karwagte kon sy aflei dat hulle nie die stelsel wil uitdaag of bevraagteken nie – moontlik uit vrees vir viktimisering.
Met Paarl Post se besoek aan die parkeerterrein Maandag was van die wagte eers huiwerig om te praat en hulle het die koerant na die winkelsentrum se bestuur verwys.
Een wag het wel erken dat hulle ’n daaglikse fooi aan ’n toesighouer moet betaal. Hy sê hierdie toesighouer samel die geld in namens wat hy ’n boss lady noem.
“Ek het haar nog nooit ontmoet nie. Ons hoor altyd maar dit is ’n vrou wat hierdie besigheid bestuur en die geld ontvang. Sy het blykbaar (sulke stelsels) by verskeie winkelsentrums in die Kaap asook Somerset-West,” het die wag huiwerig gesê.
Hy sê hulle het geen ander keuse nie as om maar die fooi te betaal.
“Ons is broodwinners. Dit is ons enigste inkomste. Daar is dae waar dit goed gaan, en ander dae nie. Ons vra nie regtig vrae nie. Dit is hoe ons die situasie kom kry het.”
Die Paarl Mall het Dinsdag by navraag aan Paarl Post bevestig dat die betrokke veiligheidsmaatskappy as Golden Mile bekendstaan en bygevoeg omdat om die karwagte ’n ooreenkoms met die maatskappy aangaan, is hy nie in ’n posisie om op die bewerings te reageer nie.
Golden Mile het intussen per e-pos aan Paarl Post bevestig dat daar wel ’n daaglikse fooi betaal moet word, maar kon nie sê wat die fooi in die geval van Paarl Mall is nie.
“Hierdie daaglikse fooi word bepaal deur die area waarin hulle hul diens lewer. Die geld word gebruik vir oorhoofse kostes, administratiewe fooie, bestuursfooie, versekering, openbare aanspreeklikheid, toerusting en uniforms,” het Letitia Brandt, kantoorbestuurder by Golden Mile in die e-pos gesê.
. Eye brows are raised after alleged Mafia tactics used by a security company that forces Paarl Mall parking attendants to pay the company a fee to be allowed to operate in the parking area.