Dié geel polisiewae was Donderdag voor die kafee in Nuwestraat deur ’n Paarl Post-joernalis vasgevang.Foto: Chantélle Hartebeest


Paarliete se koppe draai vandeesweek met gemengde gevoelens van nostalgie toe ’n berugte geel polisiewa in Nuwe- en Lady Greystraat gewaar is.

Maar daar was geen rede vir kommer nie, want dié gesig is deel van ’n filmstel wat stuk-stuk oor die dorp uitgerol is vir ’n televisie-produksie wat in die vallei verfilm word.

Volgens ’n bron op stel handel verfilming oor die berugte en ware verhale van die ABC-reeksmoorde wat in die 70’s en 80’s in Suid-Afrika uitgespeel het.

Die Drakenstein-munisipaliteit het in ’n kennisgewing aangekondig dat talle strate gesluit sal wees hiervoor.

Paarlberg se toegangspad was Woensdag gesluit vanaf 12:30 tot 15:30, sowel as Westhovenstraat vanaf 20:00 tot 23:00 in die namiddag.

Donderdag is die gedeelte voor die ou Truworths-gebou in Lady Greystraat vanaf 12:30 tot 15:30 gesluit, en dieselfde area sal weer Vrydag tussen 12:30 tot 15:30 gesluit wees weens verfilming.

Paarl het vanjaar behoorlik munt geslaan uit filmproduksies wat in die gebied verfilm is. En die munisipaliteit verdien ook ’n goeie inkomste hieruit vanweë uitreiking van die nodige permitte vir verfilming in die vallei.

Onlangs is Paarlberg gebruik vir ’n gedeelte van die verfilming van ’n fliek oor Chaka Zulu, en ’n paar maande gelede is ’n dokumentere film in die middedorp verfilm oor die lewe van Dag Hammarskjöld, die Sweedse ekonoom en diplomaat wat vanaf April 1953 tot sy dood in ’n vliegongeluk in September 1961 as die tweede sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies gedien het.

You need to be Logged In to leave a comment.