Die omstrede Christo Niemand (39) het onlangs in die Paarl sy verskyning gemaak toe hy glo bykans R27 000 se toerusting van die Cycle4Life-fietswinkel in Suider-Paarl geswendel het.
Niemand het op 1 Augustus in die Blue Downs-landdroshof verskyn weens die saak van bedrog nadat hy reeds vroeër die jaar in hegtenis geneem en in aanhouding geplaas is weens ’n ander saak van bedrog in Kuilsrivier.
Tydens sy aanhouding vir die insident in Kuilsrivier, waar hy glo ook ’n fietswinkel besteel het, het nog ’n bedrogsaak sy verskyning gemaak nadat gesteelde goedere van ’n Paarlse fietswinkel gerapporteer is.
Volgens die eienaar van Cycle4Life het Niemand vir dié winkel ’n bewys van betaling op 12 Julie van R26 600 gestuur vir die “koop” van ’n Trek Marlin 8-bergfiets, ’n spoedmeter, saalsak en ligte.
Nietemin het die geld nooit in die winkel se bankrekening verskyn nie waaroor hulle in kontak met hom was.
Op 17 Julie het hy alle kontak verbreek en ’n saak is dadelik by die Paarl-polisie geopen.
Volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, het die verdagte op 4 Augustus in die Paarl-landdroshof verskyn nadat hy op 17 Julie deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem is op drie sake van bedrog in die dorp.
Voor dit was hy ook deur die Kuilsrivier-polisie aangekeer en in aanhouding geplaas, maar kort ná sy vrylating weer deur Paarl-polisie in hegtenis geneem.
Die verdagte word tot môre (11 Augustus) in die Goodwood-gevangenis aangehou, volgens Du Plessis.
Volgens Cycle4Life se eienaar het die polisie reeds die gesteelde goedere teruggekry, maar hou dit in hul besit totdat die saak afgehandel is.