Paarlberg, die tweede grootste granietdagsoom ter wêreld en die enigste wat omring word deur wingerde.


Wat verondersteld was om ’n lekker fietsrit op Paarlberg te wees, het verlede naweek in ’n nagmerrie vir ’n plaaslike vrou ontaard.

Dié vroulike fietsryer, wat verkies om haar identiteit te beskerm, het Saterdagoggend ’n gewelddadige aanval op Paarlberg beleef toe sy deur gemaskerde mans aangeval en van haar bergfiets beroof is.

Die voorval was op die pragtige maar gevaarlike roetes van Paarlberg, wat toenemend geteister word deur aanvalle op fietsryers, stappers, hardlopers, met selfs gevalle van verkragting wat al aangemeld is.

Volgens ooggetuies het die vrou alleen vooruit gery op die roete naby Paarl-Noord toe sy deur twee mans, wat maskers gedra het, aangeval is.

Sy is van haar fiets af gegooi en met ’n stok en die stomp kant van ’n panga geslaan, wat beserings aan haar elmboë en knieë veroorsaak het.

Die roete was besig daardie oggend, met verskeie stappers, fietsryers en motors in die omgewing – tog het die misdadigers dit gewaag om in die oopte aan te val.

Vier stappers, wat sowat 100 m agter die vrou was, en ’n groep fietsryers wat vroeër die roete opgery het, het vinnig opgetree nadat hulle die twee aanvallers op die gesteelde fiets gesien het.

Een van die fietsryers het die gesteelde fiets, ’n Giant, herken en die groep het onmiddellik omgedraai en die rowers agternagesit.

Hoewel die verdagtes daarin geslaag het om te ontsnap, het hulle die fiets neergegooi en verder te voet gevlug.

Die beseerde vrou is 200 m verder aangetref, met bloed aan haar elmboë en knieë. Sy is bygestaan deur stappers en ander fietsryers en paramedici is ontbied.

Die polisie het kort daarna opgedaag om verklarings van getuies af te neem.

Hierdie voorval vorm deel van ’n groter probleem van toenemende geweldsmisdade op Paarlberg.

Inwoners en besoekers word aangemoedig om ekstra versigtig te wees en nie alleen op die roetes te beweeg nie.

Die plaaslike gemeenskap hoop om hierdie aanvalle met verhoogde patrollies en waaksaamheid te verminder, veral in die lig daarvan dat Paarlberg al hoe meer gewild raak onder avontuur-toerisme.

As jy enige inligting oor hierdie of soortgelyke voorvalle het, word jy versoek om die polisie te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.