Upper Lea Smit-straat in Franschhoek waar die messteekvoorval plaasgevind het. Foto: Jana Scheepers


Franschhoek het die afgelope week onder ’n gruwelike voorval van geslagsgebaseerde geweld deurgeloop toe ’n man eers sy meisie en toe homself gesteek het.

Dié voorval het in Upper Lea Smitstraat in Groendal plaasgevind, en die man, Lizo Ntinganti (38), is oorlede nadat hy doodgebloei het.

Sy meisie het oorleef en sterk tans in die hospitaal aan.

Volgens sers. Muriel Sitzer, ’n woordvoerder van die Franschhoek-polisie, het Ntingati verlede week Woensdag (9 Mei) net voor 20:00 eers sy meisie gesteek, en toe homself doodgesteek.

“Daar was ’n bakleiery tussen die oorledene en sy meisie, waarin sy [die meisie] blykbaar verskeie kere deur die oorledene [met ’n mes] gesteek is.”

“Volgens ooggetuies het hy [die oorledene] homself toe in die nek gesteek en van die misdaadtoneel gehardloop, waarna hy voor sy huis ineengestort het.

“Hy is daar deur mediese personeel dood verklaar,” het Sitzer gesê.

Volgens Sitzer was die oorledene nie onder die invloed van drank of dwelms nie.

In ’n onverwante voorval is ’n voetganger die afgelope Sondagaand (12 Mei) om 21:00 doodgery toe die bestuurder van ’n Toyota Quantum op die R45 naby La Motte-wynplaas hom getref het.

“Hy [die bestuurder] het gestop en gesien dat ’n man in die pad lê, waarna die polisie en mediese personeel ontbied is en die man dood verklaar is.

Die oorledene was die 67-jarige Gert Jefthas.

Volgens Sitzer word ’n saak van strafbare manslag ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.