Die drie beskuldigdes Keaton Johnson (19), Bradley Mamani (25) en Theodore Qatha (31) tydens 'n vorige verskyning in die Paarl-landdroshof. Foto: Rasaad Adams
Die drie beskuldigdes Keaton Johnson (19), Bradley Mamani (25) en Theodore Qatha (31) tydens ‘n vorige verskyning in die Paarl-landdroshof. Foto: Rasaad Adams

Die familie van die vermoorde 16-jarige Chanelle Plaatjies sê hulle gaan ’n versoek aan die provinsiale direkteur vir openbare vervolging in die Wes-Kaap rig en vra dat die hooggeregshof in die Paarl kom sit om dié moordsaak aan te hoor.

Die drie mans, wat van haar moord beskuldig word, het verlede Donderdag (16 Oktober) weer vlugtig in die Paarl-landdroshof verskyn.

Die saak is tot 27 November uitgestel te midde van ’n uitstaande toksikologie-verslag, wat die oorsaak van Plaatjies se dood moet aandui.

Die Paarl-landdroshof het verlede week aangevoer dit sal nie wys wees om die saak na die hooggeregshof te verwys indien hierdie verslag nog uitstaande is nie.

Paarl Post verstaan dat die saak reeds vroeg aanstaande jaar op die hooggeregshofrol in Kaapstad geplaas gaan word.

Chanelle Plaatjies (16)
Chanelle Plaatjies (16)

Die familie het ná verlede week se verskyning aangedui dat hulle enige ondersteuning sal aanvaar vir dié hof om in die Paarl vir die saak te sit.

Plaaslike aktiviste meen ook weens die groot openbare belangstelling in die saak sal dit prakties wees dat die verhoor in die Paarl plaasvind.

Die drie beskuldigdes bly in aanhouding tot hul volgende verskyning op 27 November.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade asook regsverydeling.

Chanelle se verminkte lyk is op 2 Junie in ’n vlak graf langs die Allandale-gevangenis in die Paarl aangetref.

Al drie beskuldigdes, onder wie Chanelle se kêrel (Johnson), het vorige oortredings.

Johnson is al voorheen van moord aangekla in ’n saak wat tans nog in die Paarl-streekhof voortduur.

LEES OOK: Chanelle Plaatjies-moordsaak: Twee verdagtes laat vaar borgaansoek

You need to be Logged In to leave a comment.