Lee-Mark Pienaar (19), wat op 26 Januarie langs die N1 raakgery is, en die volgende dag in die Mediclinic Paarl gesterf het.

Die Pienaar-familie van Wellington sit steeds met talle onbeantwoorde vrae ná die tragiese afsterwe van hul seun, Lee-Mark Pienaar (19), wat op 26 Januarie op die N1 naby Klapmuts omstreeks 23:00 deur ‘n voertuig getref is.

Hy is ure later aan sy beserings in Mediclinic Paarl oorlede. Die voorval word deur die Klapmuts-polisie ondersoek.

Volgens Ronelle Pienaar, ‘n familielid van Lee-Mark, het die familie egter nog geen kommunikasie van die Klapmuts-polisie ontvang nie, met slegs ‘n saaknommer wat verskaf is.

Verklarings van die familie, wat ooggetuies was van die ongeluk, is nog nie geneem nie, asook nie die verklaring van die bestuurder wat in Lee-Mark vasgery het nie.

Ronelle het vertel dat die bestuurder ná die botsing gestop en vir Lee-Mark na die hospitaal vervoer het. Die familie het dus die bestuurder se besonderhede in hul besit. Volgens Ronelle het die motoris ook erken dat hy tydens die ongeluk op sy foon was.

Sers. Madilyn Dombas, woordvoerder van die Klapmuts-polisie, weerlê die bewerings van die familie dat die polisie nie met die familie kontak behou nie, en sê dat “alle inligting reeds ingesamel is”. Sy het egter nie verdere besonderhede gegee oor wat hierdie inligting behels nie. ‘n Saak van strafbare manslag word tans ondersoek.

Volgens Ronelle was Lee-Mark en sowat 10 ander mense, wat insluit familie en vriende, op pad van die Strand na Wellington nadat hulle ‘n dag langs die see deurgebring het.

Die motor, ‘n bakkie, waarin hulle gery het, het egter probleme gegee waarna Ronelle en haar man uitgeroep is om hulp te verleen.

Met hul aankoms het hulle gepoog om die bakkie te sleep, maar het later gestop en naby aan die Klapmuts-afrit besluit om ‘n insleepdiens te kontak.

Die insittendes, uitsluitend Lee-Mark, het toe na die motor gestap waarin Ronelle gesit het, waarna Lee-Mark ook van die bakkie afgeklim het om na hulle toe te stap.

“Hy [Lee-Mark] het reg langs my verbygeloop [en] dit is waar die ongeluk plaasgevind het. Die voertuig het hom [vir Lee-Mark] getref sonder dat ons dit [die voertuig] sien of hoor aankom het. My redenasie is dat, as hy [Lee-Mark] die voertuig betyds opgemerk het of onveilig gevoel het, sou hy uit die pad probeer spring het,” volgens Ronelle.

Toe Ronelle omkyk het sy vir Lee-Mark op die grond sien lê, waarna die ambulansdienste en Klapmuts-polisie dadelik ontbied is.

Die bestuurder wat in Lee-Mark vasgery het, het egter omgedraai, en aangebied om hom na die Mediclinic Paarl te neem waarna sy familie die bestuurder gevolg het.

Die Klapmuts-polisie het die familie glo by die hospitaal ontmoet waar ‘n saak geopen is.

Die voertuig waarin hulle gereis het wat probleme gegee het, is op die N1 agtergelaat.

Die mediese personeel het alles in hul vermoë gedoen om Lee-Mark se lewe te red, maar hy is omstreeks 04:00 op 27 Januarie oorlede weens “veelvuldige beserings wat ooreenstem met trauma veroorsaak deur ‘n stomp voorwerp”. (blunt force trauma), volgens die nadoodse ondersoekverslag wat die Paarl Post onder oë gehad het.

Lee-Mark het in Wellington grootgeword en skoolgegaan aan die Hoërskool Wellington. Ten tyde van sy dood was hy besig om ‘n diploma in kantooradministrasie aan Boland College te voltooi.

Die Pienaar-familie is ontsteld oor die gebrek aan kommunikasie van die Klapmuts-polisie sedert die ongeluk, ondanks hulle pogings om by die polisiestasie navraag te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.