Van links is Nazlee Jeppie, Gaireyah Fredericks en Alamien Gaidien, en voor die susters Madeehah en Mufeeda Suleman.


Gaireyah Fredericks, ’n plaaslike digter, en haar familielede is trots op die jongste digbundel wat hulle onlangs saam gepubliseer het.

Fredericks, wat sedert 2012 onder leiding van Diana Ferrus skryf, vertel dat sy van haar familielede aangemoedig het om deel van haar nuutste digbundel te wees.

Fredericks het ook in 2020 die Neville Alexander-prestigeprys gewen, asook verskeie ander vir haar bydrae om Kaaps te bevorder.

Sy het haar ouer suster, Nazlee Jeppie, genader, wat saam met haar in die Mengelmoesdigtersgroep se debuutbundel in 2020 gepubliseer het. Daarna het sy ook haar oom Alamien Gaidien (’n bekende kleremaker en sakeman in die Paarl) aangespoor om deel van die bundel te word.

Gaidien was ook een van die top-13-deelnemers in die Afrikaanse Taalmonument en -museum se Arabies-Afrikaans-kompetisie hierdie jaar en sy inskrywing is in die Groen galery by die Taalmonument te sien.

Terwyl dié drie besig was om aan die bundel te skryf, het Fredericks ontdek dat haar jonger suster se dogter, Mufeeda Suleman, haar ook met digkuns besig hou en haar in Engels uitdruk, en sy het besluit om haar ook by die digbundel te betrek.

“Toe Madeehah Suleman, die kunstenaar van die digbundel se voorblad, die manuskrip lees, was sy so geïnspireer dat sy haar eerste Afrikaanse gedig neergepen het, en meteens is nog ’n digter in die familie gebore.

“Haar gedig is ook in die bundel te sien.”

Met die hulp van die verskeie familielede se bydraes is die digbundel, genaamd echoes . . . by die digtersfees in McGregor bekendgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.