Drie leeus dood weens verwoestende brande by Fairy Glen-wildreservaat op Worcester

Die Fairy Glen-leeus moes uitgesit word weens hul brandwonde.


Drie leeus van die Fairy Glen-wildreservaat in Worcester moes Donderdagmiddag (1 Februarie) weens brandwonde uitgesit word.

Die leeus, een mannetjie en twee wyfies, is verlede Vrydag, 26 Januarie, erg beseer toe hulle vasgekeer was in die verwoestende brand op die plaas.

“Ek was gisteroggend (Donderdag) in ’n vergadering met mense van natuurbewaring en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) toe Kayla haar daaglikse inspeksie van die leeus gaan doen het. Sy het toe onmiddellik opgelet daar is iets fout,” verduidelik Pieter de Jager van Fairy Glen.

Kayla Wilkens, De Jager se lewensmaat, het heel eerste opgelet die mannetjie se gedrag was nie soos dit gewoonlik was nie.

“Toe sy daar aankom het die mannetjie op sy rug gaan lê en lig toe sy pote op. Sy kon toe sien die brandwonde op sy pote lyk asof dit begin infeksie kry. Hy het sy een poot in sy waterbak gedruk, toe weet Kayla daar is groot fout.”

Pieter, tesame met die verteenwoordigers van natuurbewaring en die DBV is toe na die kamp om self te sien wat die toestand van die leeus was.

“Die ander twee het toe self ook gesê dit lyk nie goed nie en daar is besluit dat dit beter sal wees om die diere uit te sit. Hulle het die hulp van ’n onafhanklike veearts ingeroep.”

Pieter het gesê sedert die erge brand op die plaas Vrydagaand is die diere se brandwonde aanhoudend behandel en gedurig gemonitor. Die leeus veral het erge brandwonde op hul voete opgedoen.

“Maar die leeus se gewig was ’n probleem. Hulle het ’n geweldige massa. So wanneer hulle stap en staan is hulle baie swaar op hulle pote en veral die kussingstjies wat brandwonde opgedoen het. Ons het ons bes probeer, maar uiteindelik was dit die beste besluit.”

De Jager het die leeus gekry toe hulle al drie nog welpies was.

“Toe maak ek hulle in die huis groot, hulle het in die bed geslaap. En toe hulle groter raak het ons hulle na ’n goedgekeurde kamp op die reservaat geskuif.”

Hy noem dat een van sy top-prioriteite nou die diere se welstand en gesondheid is.

“Ons monitor die diere wat in die veld is daagliks om hul beserings en algehele toestand te evalueer.”

Herbouings- en opknappingswerk aan die gebiede wat deur die brand geaffekteer was, het nog nie begin nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article