Twee Paarliete is die afgelope naweek as top-presteerders aangewys by die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport se 2022 Provinsiale Sporttoekennings.

Die jong Paarlse fietsrysensasie, Ethan Kulsen, is as Junior Sportman van die Jaar en Skole Sportman van die Jaar aangewys, en Duwayne Adams as Nuweling van die Jaar.

Hierdie toekennings is die hoogtepunt van ’n proses van distrikstoekennings wat oor die afgelope twee maande plaasgevind het. Ethan was wenner van sy afdeling by die Kaapse Wynland-distrikstoekennings en het dus na die Wes-Kaap-toekennings deurgedring.

Die 16-jarige Ethan, ’n gr. 10-leerder by Klein Nederburg Sekonder, ryg al ’n tyd lank medaljes in vir fietsry. Meer onlangs het hy vier goue medaljes gewen by die Afrika-baanfietsrykampioenskap in Abuja, Nigerië.

Sy gunsteling-afstand is die adrenalien belaaide 1 000 m-tydtoets met ’n blitsige beste tyd van 1:06,6s.

Aan die begin van die 2021-’22-baanfietsryseisoen is hy gekroon met drie titels by die Wes-Kaap-baanfietsrykam­pioenskap. Kort daarna in Maart vanjaar het hy onder sy opponente uitgeskiet en vier titels opgeraap by die Suid-Afrikaanse baanfietsrykampi­oenskap by die Velodrome in Bellville. In die juniorafdeling het hy die vier nasionale titels verower vir die 1 000 m- tydtoets, uitvalwedren, puntewedren oor 20 km en die keirinwedren.

Ethan is ’n lid van die DSV Shift-fietsryaka­demie in die Paarl en hy en sy naelry-spanmaats het ook by die SA Kampioenskap vanjaar ’n silwer medalje verower.

Die jong fietsryer kom juis uit ’n roemryke sportagtergrond met sy pa, Elrick Kulsen, ’n oud-Springbokfietsryer, en sy oupa, Eddie Kulsen, het ook diep spore in die sport in die Paarl en ook oor Suid-Afrika heen getrap.

Duwayne Adams (17), ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Noorder Paarl, het ook onlangs twee goue medaljes losgeslaan by die Afrika-kampioenskap, dit nadat hy eers kort ná grendeltyd aan sy eerste Wes-Kaap-kampioenskap deelgeneem het waar hy twee silwer- en een bronsmedalje gewen het.

Daarna het hy aan die gewilde Boxing Day-fietsrykompetisie in die Paarl deelgeneem waar hy die keirin-baanfietsry-afdeling gewen het.

Vanjaar het Duwayne die geleentheid gekry om aan die Suid-Afrikaanse Fietsrykampioenskap deel te neem.

By die toekenningsgeleentheid het die Wes-Kaapse Minister van Sport, Anroux Marais, die belangrikheid van sport binne gemeenskappe beklemtoon en die wenners aangemoedig om voort te gaan om hul passie vir sport uit te leef.

“Of dit nou is deur afrigtingsondersteuning te bied aan ’n span wat nie toegang tot ’n gekwalifiseerde afrigter het nie, om ’n jong kind basiese sportvaardighede te leer of bloot jou stories met ander te deel – dit is deur onderrig en kennis te deel dat ons die volgende generasie van sportsterre kan laat groei.”

Sy het voorts gesê die departement is daartoe verbind om erkenning te gee aan die werk en prestasies van atlete, afrigtingspersoneel en administrateurs om te verseker sport in die Wes-Kaap hou aan om te groei.

You need to be Logged In to leave a comment.