Rescue Obsessed Paarl (ROP) bestaan uit ’n wye netwerk van vrywilligers in die vallei wat uitreik en mediese behandeling aan diere verskaf en opvoedkundige werk rondom die versorging van plaaslike diere aanbied.


Met net twee jaar oor om te lewe het Michelle Rahner as die stigter van Rescue Obsessed Paarl (ROP) besluit om die res van haar dae aan diere wat deur dié ondersteuningsnetwerk versorg word, toe te wy.

Hoewel die organisasie swaar gebuk gaan onder finansiële druk, is die gedagte om tou op te gooi ná byna drie jaar se opofferings, liefde en omgee vir plaaslike diere buite die kwessie.

“Dit is Michelle se wens om vernuwende lewe in die organisasie te blaas deur vir oulaas ’n geldinsamelingsete te hou en sodoende ROP aan die lewe te hou,” sê Bonita Denton van dié welsynsorganisasie sonder winsbejag (NPO).

Hoewel die NPO barmhartige afslagtariewe en ondersteuning van die Wellington-dierehospitaal geniet, rus baie van die organisasie se oorblywende onkostes swaar op Rahner se skouers.

Ongelukkig het Rahner onlangs ’n tragiese tyding van haar dokter ontvang.

“Motorneuronsiekte is by Michelle gediagnoseer. Die dokters sê sy het ongeveer twee jaar oor om te lewe.”

Nou wend die organisasie se bestuur hul beste pogings aan om ’n deftige onthaal op 19 November by The Venue @ Pearl Mountain aan te bied.

Kaartjies is beskikbaar teen R250 per persoon vir dié spesiale funksie, met die gasspreker Tesna du Toit, vergesel deur die vermaaklike klanke van die saksofoonspeler Mario Arnolds.

Du Toit, van Touwsrivier Diere en Worcester se skut, sal met gaste gesels oor reddings­werk en Leo, ’n gestremde rescue-hond, is haar metgesel vir dié aand, met Paarl FM se alombekende Lynden Jafta as seremoniemeester.

Denton sê die kaartjies sluit in ’n driegangmaaltyd asook ’n stille veiling van wyne geborg deur Diemersfontein en Paardeberg.

“Die geld wat ons insamel sal gaan na ons pogings en inisiatiewe om diere se welstand in die Paarl en omliggende gebiede te volhou soos ons dit al sedert die Covid-pandemie se begin gedoen het.

“Ons funksioneer onder geweldige uitdagende omstandighede, maar ons as groep het besluit ons wil volhard – dit kan nie die einde wees nie.

“Die nood is net te groot,” voeg Denton vasbeslote by.

ROP sien dit as sy plig om ’n rehabilitasie-, pleegsorg- en aanneem-skema aan te bied aan diere as ’n oorspoelplek vir organisasies soos Paarl Doenit wat sterilisasies, dip, die aanbring van mikroskyfies en diere-opvoedkunde in informele gemeenskappe behartig.

Só werk ROP ook saam met ander reddingsnetwerke, waar hulle onder meer hondjies, katjies en selfs hase of marmotte inneem om deur aanneming hervestig te word.

Hulle het ’n wye vrywilligers­netwerk van mense wat hul aan versorging reg oor die vallei toewy, soos Luzelle Möller van Wellington.

Dit is mense soos dié wat met baie opofferings en sorg dikwels jong weeshondjies- en katjies aan die lewe hou en te help hervestig.

Denton meen dat elke vrywilliger hul spesialiteit na die tafel bring. “Luzelle is my Wellingtonse pleegsorgmoeder wat baba-troeteldiere met die hand grootmaak, Marolette is ons staatmaker wat getraumatiseerde diere inneem en goed rehabiliteer, terwyl Shakira nou weer die fyn versorging aan meestal voëltjies verskaf.”

Bespreek vandag nog jou kaartjie om op Saterdagaand 19 November ROP se missie te ondersteun.

’n Verwelkomingsdrankie is ingesluit en sal met gaste se aankoms bedien word.

Net ’n beperkte aantal kaartjies is nog beskikbaar. Vir meer besonderhede skakel 067 887 3651.

You need to be Logged In to leave a comment.