Die inligtingsbordjie wat gesien kan word by die Standard Bank-gebou in Lady Greystraat. Foto: Chantélle Hartebeest


Die interessante inligtingsbordjies wat by verskeie erfenispunte in Klein Drakenstein-weg opgerig is, asook in dele van die Paarl-sentrale sakekern, vorm deel van die Paarl-Oosstraat-museumroete.

Dié roete is onlangs deur die Drakenstein-munisipaliteit bekendgestel en dit sluit in 25 betekenisvolle terreine wat die uiteenlopende en historiese betekenis van Paarl-Oos weergee.

Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê die roete begin aan die bopunt van Klein Drakenstein-weg en eindig by die Standard Bank-gebou in Lady Grey-straat, waar die Paarl-polisiekantoor eers was.

Die inligtingsbordjies vertel kortliks die geskiedenis van die erfenispunte waar dit opgerig is. Verskeie noemenswaardige terreine soos die Khoi-gedenkterrein, die Essop se Supermark-gebied, “Die Stoepe”, die Zions-kerksaal en Bethany School is deel van die roete. Die bordjies maak die roete maklik identifiseerbaar.

Inwoners word aangemoedig om die ryk geskiedenis van die dorp te ervaar en te geniet. Die lys van betekenisvolle plekke kan besigtig word by www.drakenstein.gov.za/tourism/paarleaststreetmuseum.

Dit sluit ook ’n landkaart in wat presies aandui waar elke erfenispunt geleë is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article