Plakkate moet twee meter bokant grondvlak opgerig word. Foto: Jana Scheepers


Die Drakenstein-munisipaliteit het politieke partye gemaan om die munisipaliteit se verordeninge oor die aanbring en afhaal van verkiesingsplakkate behoorlik na te kom.

Nietemin stem nie alle politieke partye met dié verordeninge saam nie.

Volgens Keagan Gertse, hoofsweep van die GOOD-party in die Drakenstein, neem sy party “met kommer” kennis van die talle regulasies rakende die aanbring van verkiesingsplakkate.

“Aangesien GOOD ’n reëlsgebaseerde organisasie is, aanvaar die party dat hierdie reëls deurslaggewend is in die algemene bestuur van plakkate in die Drakenstein-munisipaliteit, maar baie van hierdie reëls het egter ’n negatiewe uitwerking op die deelname van partye aan verkiesings en beperk die toegang wat gemeenskappe tot die verspreiding van party-inligting het,” het Gertse gesê.

“Boonop sal ’n meer pertinente kwessie dalk wees om in ag te neem dat politieke partye [toegelaat word om] afstand te doen van die fooi wat betaalbaar is vir die hang van verkiesingsplakkate, aangesien demokratiese deelname veel swaarder weeg as die behoefte vir die munisipaliteit om wins te maak.”

Een plakkaat per politieke party per paal word toegelaat. Foto: Rasaad Adams

Volgens ’n ander raadslid, wat onder anonimiteit met die Paarl Post gesels het, beset die DA byna elke paal in die munisipaliteit en is dit onmoontlik om alle plakkate minstens twee meter bo die grond op te rig weens almal wat veg vir ’n plek.

Volgens Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van openbare veiligheid en waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, beloop die verordeninge as volg:

  • Voordat verkiesingsplakkate vertoon word, moet die politieke party die Drakenstein-munisipaliteit ’n deposito van R5 000 betaal, waarvan 85% aan die party terugbetaal word indien hulle die plakkate binne 10 dae na verkiesingsdag verwyder;
  • Die plakkate mag nie groter as 80 cm x 50 cm wees nie en moet ’n stewige rugkant hê;
  • Die plakkate moet twee meter bokant grondvlak opgerig word;
  • Een plakkaat per politieke party per paal word toegelaat;
  • Geen plakkate mag op bome, verkeers- en bestaande advertensietekens, verkeersligte, voetganger-eilande, munisipale geboue of brandkraanidentifikasietekens aangebring word nie. Die plakkate moet ook nie die uitsig van verkeersligte of verkeerstekens belemmer nie; en
  • Die politieke party moet sy plakkate in stand hou en beskadigde plakkate verwyder of vervang.

Die Drakenstein-munisipaliteit is dus binne sy magte om die plakkate wat nie aan dié verordeninge voldoen nie, af te haal, soos wat verlede Dinsdag (7 Mei) gedoen is toe wetstoepassers die strate in gevaar het om plakkate af te haal.

“Tot op datum is 465 verkiesingsplakkate in die Drakenstein-munisipaliteit teenstrydig met die munisipale verordening verwyder,” het Barnard gesê.

Volgens haar bestaan dié getal uit ’n verskeidenheid partye.

Partye wat aansoek gedoen het by die munisipaliteit en hul deposito’s betaal het, sluit in:

  • ACDP;
  • ActionSA;
  • ANC;
  • Bosa;
  • DA;
  • EFF;
  • GOOD;
  • Al Jama-ah;
  • PA;
  • Referendum Party;
  • Rise Mzansi; en
  • VF Plus.

Volgens die raadslid is die manier waarop die munisipaliteit dit afhaal, immers kommerwekkend omdat die plakkate en kabelbinders “afgeruk” word, wat dan tot ekstra onkostes vir partye lei.

You need to be Logged In to leave a comment.