Die Intangible- kulturele erfenisfees in Wellington, ter viering van Erfenismaand, is weer hier en word op 14 September by Wellington Museum aangebied.
“Intangible” beteken “ontasbare erfenis” en alles wat van geslag tot geslag oorgedra word. Dit sluit in tale, stories en orale tradisies wat nie tasbaar is nie; wat jy nie kan aanraak nie. Erfenis en erfenisvieringe stop nie net by braai of monumente nie, maar behels ook lewende uitdrukkings, soos hierdie fees.
Die gemeenskap het op Erfenisdag in 2022 saamgekom om erfenis te vier en om dr. Andrew Murray, ’n internasionale skrywer, pionier en ikoon, te vereer deur sy lewe te vier.
Andrew Murray is ’n belangrike deel van Wellington se geskiedenis en sy nalatenskap leef nog voort.
Hierdie jaar vereer en vier die fees Wellington se volle gemeenskap, maar spesifiek Wellington as kultuurdorp met sy vele talente, mylpale, ikone en legendes, sporthelde, musikante, skrywers, digters en akteurs.
Vanjaar word die kommunikasiemedium van gedrukte koerante, spesifiek Paarl Post, ook vereer vir die rol wat dié publikasie verrig het om ons helde en heldinne aan te moedig, asook vir die lees- en skryfkultuur wat hy al die jare gekweek het.
Feesgangers kan kom luister na gesprekke oor die klopse deur onder andere Japhta Fisher en Henrich Apollis, sport met Cupido Cupido [Kiepie Zulu] en Naaim Davids, die blaaskorps met Tony Adams en Gawie Adams, en voorlesings uit die boeke ’n Lewe Suid van Markstraat met Olivia le Cordeur en Randfigure deur Isabel Murray. ’n Opvoering van gedigte deur Janel Speelman, die welbekende operasanger, is ook deel van die program.
’n Gedigkompetisie word ook aangebied en wenners stap weg met ’n lekker braaisous-mandjie van Jimmy’s souse, en hul gedig word gepubliseer in die tydskrif Heritage Travel. Die kompetisie se tema is Heritage/Erfenis en sluit op 16 September om betyds te wees vir Erfenisdag op 24 September. Die gedigkompetisie is geskep om erfenis te vier. Inskrywings kos R50.
. Skryf tot drie gedigte per e-pos in by info@heritagetravelmagazine.com
. Koop kaartjies vir die erfenisfees vroegtydig by 079 431 1494 of info@heritagetravelmagazine.com