Wellington is weer as ’n gasheerdorp vir die 2020- Absa Cape Epic-bergfietsren aangewys en hoop om aanstaande jaar weer die louere as topsportbestemming in te oes.
Dié Drakensteinse dorp het verlede jaar die prys vir die dorp met die beste gees vir die 2018- Absa Cape Epic gewen, met die Hoërskool en Laerskool Hugenote wat die prys vir die beste verhoogligging ontvang het.
Die beroemde Absa Cape Epic in 2020 is ’n wedren wat iets van alles opdis. Die roete strek oor ongeveer 647 km en sluit 15 550 m se klim van Kaapstad tot Val de Vie in.
Plaaslike en internasionale fietsryers sal agt dae lank met hartlike verwelkomings en vriendelike glimlagte bederf word aangesien hulle die uiteenlopende argitektuur en kulture van die Wes-Kaap sal ervaar.
Die Absa Cape Epic bied van 15 tot 22 Maart 2020 een van die moeilikste bergfietsuitdagings ter wêreld aan met 1 300 deelnemers wat in Ceres wegspring. Taai bergpasse en klipperige enkelspoorpaadjies sowel as pragtige fynbos wag op die deelnemers.
Van daar is dit na Tulbagh en dan na Wellington, wat ryers neem deur ’n vergete vallei na die Zuurvlakte.
Die Wild Boar-roetes, wat deur die beboste en fynbos bedekte hellings van die Groenberg- en Hawequa-berge strek, bied baie van die opwinding en uitdagings. Skof 5 is die steilste van die ren met 35 meter se klim per kilometer, terwyl skof 6, die voorlaaste skof, die tweede langste van die ren is.
Die eindpunt is van Wellington na Val de Vie vir ’n gepaste glansryke einde aan die wêreld se voorste bergfiets-skofren. Dit is egter nie maklik om die laaste eindstreep te bereik nie.
Die roete na die 66 harde kilometer by Val de Vie bied ’n gepaste einde aan die Absa Cape Epic in 2020 en verseker dat elkeen van die ryers wat die ren voltooi, sy of haar plek in die Book of Legends verdien.
Die Epic in Wellington sal verskeie toeskouerpunte bied, asook feestelike vierings op wynplase waardeur die fietsryers sal trap, asook in die dorp self. Besonderhede hiervan sal nader aan die tyd bekend gemaak word.