Emile Asplein by Uitkyk van JD Kirsten Edms. Bpk is by die jaarlikse Prestige-landbouwerker-prysuitdeling as die Bergrivier-streek se beste tegniese operateur, asook algehele landbouwerker van die jaar aangewys. Foto: Verskaf


’n Paarliet is weer eens by die onlangse Bergrivier-streek se Prestige-landbouwerker-prysuitdeling wat op 16 September in Porterville plaasgevind het as die algehele wenner aangewys.

Emile Asplein by Uitkyk van JD Kirsten Edms. Bpk is as vanjaar se landbouwerker van die jaar, asook beste tegniese operateur aangewys – ’n dubbele wen vir dié plaas met Audrey September van dieselfde plaas wat verlede jaar ook as die algehele wenner aangewys is.

“As tegniese operateur van Uitkyk is ek verantwoordelik vir die kalibreer van bemestingstowwe, die gebruik van plaagdoders, sowel as vir die trekkers en die gebruik daarvan,” vertel Emile.

Hy is oorspronklik van die Hexriviervallei in Worcester waar hy ook gematrikuleer het, maar woon sedert 2019 in die Boland saam met sy vrou en jongste dogter toe hy by Uitkyk aangestel is.

Emile is al vir ’n wyle deel van die landbousektor, en is van 2004 tot 2009 vyf keer as ’n wenner by die Prestige-landbouwerker-prysuitdeling in die Worcester-distrik aangewys.

“Ek het in 2004 die toekenning vir algemene werker gekry, in 2006 die toekenning vir chemiese operateur en in 2007 die toekenning vir beste admin-werker,” vertel Emile.

Nietemin stop sy prestasies nie net daar nie. Emile is ook in 2008 benoem as die beste junior bestuurder in die Hexriviervallei, en het in 2009 ’n prys vir die beste spesialiswerker losgeslaan. Vanjaar was Emile wéér teenwoordig by die prysuitdeling, wat daarop dui dat hierdie toegewyde landbouwerker se kennis nóg verder groei.

Saam met die toekennings waarmee Emile kan spog, het hy ook geldpryse gewen – geld wat gespaar gaan word vir toekomstige landboustudies, vertel Emile.

“Die landbouwerker-kompetisie spoor my aan om my kennis te verbreed, en open baie deure omdat dit my laat streef om nog beter te doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.