Die Wellingtonner Elria Visser met haar eerste digbundel vir kinders. Foto: Engela Duvenage


Ané Visser het haar ma se hart vroeër vanjaar op meer as een manier van trots laat swel.

Dié graad 6-leerder aan die Hugenote Laerskool het cum laude in voordrag by die Tygerberg-eisteddfod ontvang – en dit met een van haar ma, Elria, se gedigte wat sy voorgedra het. Dié gedig, oor ’n nuwe skoolhoof, is een van 42 wat in Elria se eerste digbundel vir kinders verskyn.

Elria het haar bundel aan haar gesin en haar ma, Esté Hugo, opgedra. “My ma was nog altyd die een wat ’n rympie in ’n verjaarsdag- of doopkaartjie geskryf het. Die storietjie is altyd in ’n rympie,” verduidelik Visser.

Dié digter het in Worcester grootgeword en studeer. Daarna is sy vir ’n jaar Nederland toe voordat sy haar voete in Wellington kom vind het.

Sy werk nou al 19 jaar in die plaaslike wingerdstokbedryf en is al 15 jaar deel van die Cape Vines-span. Sy het al die gedigte in haar bundel in twee jaar geskryf.

Elke gedig vertel ’n storie. Elria reken die lengte van die 42 oorspronklike gedigte is net reg om deur veral ouer laerskoolkinders as eisteddfod-gedigte gebruik te word.

Sy kry dikwels inspirasie as hul gesin vir ’n wegbreeknaweek of vakansie na die Karoo op reis is. “Ek is baie trots daarop dat ek alles self reggekry het – van die skryf van die gedigte tot die uitsoek van die gedigte en die hantering van die hele proses daarna,” sê Elria.

Sy lag lekker as sy vertel van die eerste keer toe een van haar gedigte gepubliseer is. Sy was destyds in haar laaste jaar aan Worcester Primêre Skool. “Ons klas moes almal iets oor die lente skryf,” onthou sy. “Ons onderwyser het al die gedigte in ’n boekie gebind en toe aan die destydse presidentsvrou, Marike de Klerk, gestuur.” Omdat die onderwyser Elria se gedig as die beste aangewys het, moes sy namens haar klas ’n brief aan die gewese presidentsvrou skryf.

Sy het vandag nog die brief wat hulle van Marike terugontvang het om dankie te sê vir die mooi bundel.

Visser verkoop haar bundel, Eendag as ons groot is, teen R140.

Skakel 082 681 6312 vir bestellings.

You need to be Logged In to leave a comment.