Die gewilde nuwe sanger Corné Pretorius van die Paarl het pas ’n video vir sy nuutste enkelsnit, “Ek wil glo”, uitgereik.
Hy sê dié hoendervleis-liedjie handel grotendeels oor die liefde. “Maar mense kan dit interpreteer soos hulle wil. Net die idee dat ’n mens kan glo dat enigiets waarvoor jy wens, moontlik is, is wat ek met hierdie lied wil tuisbring.”
Damiane van Reenen het die treffende video vir dié gewilde enkelsnit by Pencil en Oak in die Drakenstein Mall verfilm. Die video neem Pretorius op ’n terugblik-reis na al die wonderlike dinge wat die afgelope drie jaar in sy musiekloopbaan gebeur het.
Jan Bloukaas het aanvanklik die musiek vir “Ek wil glo” geskryf en dit is later verder deur Johnny de Ridder verwerk. Hunter Kennedy het ook saam aan die lirieke geskryf.
“Ek wil glo” is die nuutste enkelsnit op Pretorius se debuut-album Halfvol, wat in September 2021 uitgereik is. Dit bestaan uit 10 liedjies wat in samewerking met ’n span gedugte plaaslike kunstenaars en musiek-vervaardigers opgeneem is. Sy grootste treffer tot dusver, die titelsnit van die album, “Halfvol”, het reeds ’n gesamentlike luisteraarstelling van 80 miljoen op nasionale radiostasies.
“Ek hoop almal geniet ‘Ek wil glo’ se video,” sê Pretorius. “Dit is een van my gunstelinge!”


