Chris Jordaan (regs) saam met sy ouer broer Johann Jordaan onlangs by die rehabilitasiesentrum waar hy verlede jaar herstel het.


Die afgelope jaar was alles behalwe maklik vir die 17-jarige Chris Jordaan, maar deur sy vasberaden­heid en baie ondersteuning is hy staande nadat hy verlede jaar ’n ernstige kopbesering in ’n rugbywedstryd opgedoen het.

Chris is tans ’n matrikulant aan die Hoër Jongenskool Paarl. Hy het verlede jaar opspraak gemaak toe hy ernstig beseer is by die NMI-Toyota-Menlyn-Noord-Suid-rugbytoernooi in Pretoria.

In ’n rugbywedstryd teen die Afrikaanse Hoër Seunskool, bekend as Affies, het Chris in die vierde minuut van die wedstryd lelik geval en sy kop teen die grond gestamp. Ryno Rust, die sportwetenskaplike van HJS se rugbyspan, het voorheen aan Paarl Post vertel dat Chris ná die val nog gekommunikeer het.

“Toe Chris langs die veld lê en met ons fisio praat, het hy ’n toeval begin kry. Dit het gewys dat iets neurologies fout kan wees.”

Nooddienswerkers het toe met die tiener na Mediclinic Muelmed gejaag, waar ’n neurochirurg skanderings en verdere toetse gedoen het. Chris is kort daarna by die teater ingestoot vir ’n noodoperasie om die drukking op sy brein te verlig en om van die bloeding op sy brein ontslae te raak. Hy het ’n ruk in die waakeenheid deurgebring voordat hy na ’n nabye rehabilitasiesentrum oorgeplaas is.

Chris Jordaan sr., Chris se pa, was langs die veld toe sy seun die ernstige besering opgedoen het.

“Dit gaan goed met hom; hy is verlede jaar terug skool toe en hy is hierdie jaar in matriek. In dié stadium gaan dit baie goed met hom. Hy is nou net besig met sy matriekjaar. Ek is bly ek was daar toe die ongeluk gebeur het, want as ek hier by die huis moes gewees het, sou ek van my kop af geraak het, want ek sou nie geweet het wat aangaan nie.”

Chris op sy beurt sê: “Dit gaan baie beter, maar natuurlik nie 100% soos wat ek was voor die ongeluk nie. My gevoel kom baie goed terug, en akademies gaan ek ook goed aan.

“My akademie is nie wat dit was soos voor die ongeluk nie, maar elke kwartaal word my punte net beter. So, ek kom weer daar, maar ek is definitief nie waar ek was nie. Ek oefen ook weer lekker om fiks te bly, maar ek mag ongelukkig nie meer kontaksport doen nie en ek help maar nou uit by die rugbyspan se bestuurspan. Baie dankie ook vir almal se ondersteuning tot dusver. Dit beteken baie.”

Wanneer Jordaan terugdink aan verlede jaar hierdie tyd, glimlag hy met ’n diep sug.

Hy klink ook baie verlig.

“Dit was ’n nagmerrie. Ons het nie regtig geweet wat voorlê nie en nou is ons net baie dankbaar dat hy uitgekom het. In ’n stadium het ons nie geweet of hy dit gaan maak of nie. Ons is dus baie dankbaar en ons vat dit soos dit kom. Volgende Vrydag (12 April) gaan ’n groep fietsryers deur die nag ry met bergfietse na Oakdale toe vir kopbesering- bewusmaking.

“Dit is om vir al die skole te sê om hul mediese personeel en toerusting op peil te bring. Chris is een van die mense wat saam bergfiets gaan ry. Hulle ry van Boishaai af deur die nag met die grondpad langs Oakdale toe.

“Dit word gedoen onder die baken van die C8-bewustheidstigting wat ná Chris se besering deur die skool begin is. Die ‘C’ is vir die voorletter van sy naam en die ‘8’ is omdat hy as agtsteman vir die skool se rugbyspan uitgedraf het.”

Volgens Jordaan is die doel van die stigting om meer bewusmaking te skep dat skole aandag moet gee aan beserings van kinders wat veral tydens sportaktiwiteite opgedoen word.

“C8 is ’n stigting wat die skool gestig het om ook geld in te samel om die mediese sentrum by die Brugstraat-sportterrein op te knap.”

Chris het vanjaar se NMI-Toyota-Menlyn-Noord-Suid-rugbytoernooi bygewoon om sy span te ondersteun.

Hy en sy gesin het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die hospitaal en rehabilitasiesentrum waar hy behandel is, te gaan besoek.

“Dit was maar moeilik om weer terug te wees by die hospitaal, maar ek dink dit het my goed gedoen om weer daar te wees, hoewel dit emosioneel was. Een van die verpleegsters wat na my omgesien het, het vir my gesê dit was by tye touch and go. Toe ek haar vra wat sy bedoel, het sy geantwoord dat ek amper dood was.”

En terwyl Chris terugkyk op die jaar wat verby is, gryp hy weer die lewe met albei hande aan en is sy plan om volgende jaar aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

“My plan is om BCom LLB te swot en my alternatief is dan BCom beleggingsbestuur.”

You need to be Logged In to leave a comment.