Nóg twee insidente waar motoriste met bakstene bestook word, is vandeesweek by Klapmuts-polisie aangemeld.
’n Inwoner van die Windmeul-omgewing buite die Paarl, Anthony Howell (75), het Maandag ’n noue-ontkoming op die Suid-Agter-Paarl-pad beleef toe ’n baksteen deur die voorruit van sy bakkie bars.
“Ek het nog rustig verby Fairview gery toe ek die magtige slag hoor. Dit het my ’n minuut geneem om te besef wat aan die gang is, en ’n mens se eerste gedagte is om die voertuig stil te hou.
“Toe val dit my by – dié is juis ’n doelbewuste situasie en om te stop sal beteken ek doen presies dit wat dié verdagte wil hê,” vertel Howell.
Hy het eenvoudig aanhou met ry met die groot gat in sy voorruit, terwyl sy vrou al ver vooruit gery het.
“Ek en my vrou was in twee aparte voertuie op pad huistoe ná ons haar motor, wat ’n diens in die Paarl ondergaan het, opgelaai het. Na die insident het sy al ver gevorder. Sy het dit nie sien gebeur nie.”
A.o. Bernadine Arendse, woordvoerder vir Klapmuts-polisie, sê twee insidente van klipgooi is die afgelope week op die Suid-Agter-Paarl-pad aangemeld.
“Twee sake van saakbeskadiging word tans ondersoek. Nog geen arrestasies is in die verband uitgevoer nie,” lui Arendse se verslag.
Howell meen dat die tendens toon veel meer gevaar as net saakbeskadiging.
“Sê nou maar net die baksteen het direk op my beland – dan sou dit my dood beteken. Dit moet dan juis as ’n poging tot moord hanteer word,” meen hy.
Verdere ondersoek rakende dié lewensgevaarlike tendens sal in die volgende uitgawe van die Paarl Post gedek word.