Die matrikulante kan uiteindelik agteroor sit en die
vakansie geniet nadat hulle die afgelope paar weke hul eindeksamen afgelê het.
David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê die
matriek eindeksamen het suksesvol afgeëindig in die provinsie ten spyte van uitdagings soos beurtkrag en die beplande twee-dag taxi staking deur die nasionale Taxiraad (Santaco).
“Vandeesweek het ‘n baie suksesvolle Nasionale Senior
Sertifikaat (NSS) eksamensessie in die Wes-Kaap tot ‘n einde gekom. Herskrywings sal oor die volgende
twee dae plaasvind, met sewe kandidate wat vandag die
Rekenaartoepassingstegnologie (RTT) prakties hervat het, en een kandidaat wat
Donderdag Engels Eerste Addisionele Taal Vraestel 1 skryf.
“Ongelukkig, ten spyte van ons herinnering verlede maand dat
kullery nie die moeite werd is nie, het ons altesaam 15 verslae gehad van
kandidate wat na bewering selfone in die eksamenlokaal ingebring het, en 14
verslae van kandidate wat na bewering ongemagtigde materiaal of
“kripnotas” ingebring het. Ons het ook een verslag gehad van beweerde
kopiëring waarby twee kandidate betrokke was. Verhore word met hierdie
kandidate gehou, en hulle sal ‘n regverdige kans hê om op die bewerings te
reageer. Ons hoop dat dit ‘n waarskuwing vir volgende jaar se kandidate sal
wees: ons opsieners het skerp oë, en hulle sal geen oortreding van die reëls
laat glip nie.”
Die merk van die matriek eindeksamen vraestelle het
vandag begin en sal duur tot 22 Desember. Altesaam 870 000 vraestelle sal
deur 3 300 nasieners by 11 nasiensentrums in die Wes-Kaap gemerk word. Die
nasionale matriekuitslae sal op 19 Januarie 2023 aangekondig word.


