Matrikulante het Maandag gemengde gevoelens van senuweeagtigheid en opgewondenheid ervaar nadat die eindeksamen amptelik begin het en hulle Engels vraestel 1 geskryf het. ’n Paar leerders van Klein Nederburg Sekondêr het hul menings oor die vraestel gedeel. Agter staan Shane Matheyse, Kaylan Onverwacht en Gareth Thompson. Voor: Robyn September, Aimy Fischer en Zeta Lawrence (hoofmeisie).Foto: Rowan Ayford


Die eindeksamen vir matrikulante het amptelik begin toe hulle Maandag Engels vraestel 1 afgelê het.

Vir baie leerders was die vraestel nie te moeilik nie, maar hulle was net ’n bietjie senuweeagtig oor wat die eksamen sou inhou.

Zeta Lawrence van Klein Nederburg Sekondêr sê: “Vir die begin van die eksamen was die gevoel van nervous wees daar. Die oomblik toe ek die vraestel oopmaak, was ek vreesbevange, want jy weet nie wat om te verwag nie, maar die vraestel was oukei.”

Shane Matthyse, ook van KN, voeg by: “Om jou eerste vraestel te skryf sonder om te weet wat kom, is baie tergend. Ek was opgewonde oor die eerste vraestel. Dit was orraait en ek hoop die ander vraestelle sal genadig wees met ons.”

Twee matrieks van die Hoërskool Gimnasium Paarl het ook hul mening gedeel:

“Die Engels-eksamen het heel goed gegaan. Ek glo en vertrou ek sal goeie punte behaal,” sê Chrizane Kellerman.

“Die eerste eksamenvraestel was ’n goeie begin vir die einde,” sê Hanu Williams.

Moreoggend (Vrydag 4 November) begin die klas van 2022 met vraestel 1 van wiskunde, wiskunde geletterdheid en tegniese wiskunde.

Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) is wiskunde geletterdheid die vak wat deur die meeste kandidate in die Wes-Kaap geskryf word – altesaam 49 672.

Die eksamen het op 31 Oktober begin en duur tot 7 Desember.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sal die nasionale matriekuitslae van 2022 Donderdag 19 Januarie 2023 aankondig.

Matrikulante sal hul individuele uitslae, wat by die skool en aanlyn beskikbaar sal wees, die volgende dag kry.

Die rooster vir die volgende week is:. Maandag 7 November – wiskunde, wiskunde geletterdheid en tegniese wiskunde (vraestel 2);. Dinsdag 8 November – ekonomie (vraestel 2) en Xhosa (vraestel 1);. Woensdag 9 November – rekenaartoepassingstegnologie (vraestel 2);. Donderdag 10 November – geskiedenis (vraestel 2); Suid-Afrikaanse Gebaretaal (vraestel 1) en inligtingstegnologie (vraestel 2);. Vrydag 11 November – fisiese wetenskappe (vraestel 1) en tegniese wetenskappe (vraestel 1).

You need to be Logged In to leave a comment.