Paarl Krieketklub (KK) het Saterdag op Bergsig in Stellenbosch in sy botsing in Krieket Boland se 50-boulbeurt-premierligawedstryd naelskraaps met nege lopies teen Van der Stel KK verloor.
Die tuisspan het 232/9 behaal ná goeie kolfbeurte deur Stefan Maree (79, 7×4) en André Hanekom (38, 3×4), terwyl Jacobus Nel (18 n.u.n.) en Divan Swanepoel (19 n.u.n) se onoorwonne 10de-paaltjie-vennootskap van 44 die laaste spyker in Paarl se doodskis was.
Die kaptein Adrian du Toit (10-1-34-3) was die besoekers se beste bouler.
Goeie en beheerste kolfwerk deur Lindley Hendricks (62, 7×4, 1×6) en die jongeling Stefan Conradie (48 in 50 balle, 1×4, 3×6) het ’n goeie grondslag van 109 lopies om die eerste paaltjie gelê, terwyl Elliot Moses (41, 6×4) ook vir Paarl (223/9) se toeskouers beïndruk het.
Akkurate boulwerk deur Swanepoel (10-1-37-3) het egter tot Paarl se ondergang gelei, terwyl Riyaad Henry, Wynand Smit en Nel elk twee paaltjies kon plattrek.
Saterdag speel Paarl weg teen Vredenburg Saldanha in sy laaste wedstryd van die jaar, terwyl Paarl II tuis teen die Krewe speel.