‘n Gewapenderoof het by ‘n plaaslike drankwinkel in sentraal-Paarl plaasgevind, waartydens die eienaar geskiet is.



Skaars twee weke nadat die verbod op drankverkope tydens inperking gelig is, is die eienaar van ‘n drankwinkel in die Paarl geskiet.

Die voorval het Donderdag (11 Junie) omstreeks 16:50 plaasgevind by CJ Cellars in die hoofstraat van die Paarl.

Volgens inligting sover ontvang het drie mans kort voor toemaaktyd by die winkel ingekom en hul as kliënte voorgedoen.

Toe hulle by die toonbank kom het twee van die verdagtes vuurwapens te voorskyn gebring, agter die toonbank inbeweeg en die eienaar van die drankwinkel, Pieter Davids, aangeval. ‘n Struweling het ontstaan waartydens Davids eers oor die kop met ‘n vuurwapen geslaan is. Verskeie skote is geskiet en Davids is in die been getref.

Die verdagtes het geld vanuit die kasregister gesteel en by die winkel uitgevlug. Die beseerde Davids is agterna maar die mans het in ‘n wit Chevy Spark motor gevlug.

Die voorval het in spitstyd plaasgevind in hierdie besige deel van die Paarl, by die kruising met Markstraat.

Davids is na MediClinic Paarl geneem vir behandeling vir sy wonde.

Niemand is in hegtenis geneem nie, maar die polisie is tans besig om sekuriteitskamera beeldmateriaal te fynkam wat die voorval vasgevang het. 

You need to be Logged In to leave a comment.