Egpaar het van slange tot hase

Deur die jare is Wellington verryk deurdat individue van buite, besighede wat noodsaaklike dienste verskaf, hulle in die dorp gevestig het. Mettertyd het hulle vanweë hul werk bekend geword en is deel van die gesig van Wellington.


Deur die jare is Wellington verryk deurdat individue van buite, besighede wat noodsaaklike dienste verskaf, hulle in die dorp gevestig het. Mettertyd het hulle vanweë hul werk bekend geword en is deel van die gesig van Wellington.

Sommige het ’n stokperdjie waardeur hulle ’n unieke diens aan die gemeen­skap lewer en waarvan min mense weet.

Frans en Janet Meyer van JJ Electrical staan hierin uit deurdat hulle ’n dieretuin in die kleine op hul erf bedryf waar almal reg van weg in en om die huis geniet, nie wegdwaal nie en in vrede saamleef. Weinig van dié baie pote en bekke is as troeteldiere aange­skaf. Die meeste is óf deur die Meyers óf deur ander uit ongewensde omstan­dighede gered.

Die plaaslike DBV bring ook dikwels babadiertjies vir grootmaak en soms volwasse diere vir permanente verblyf.

Ook die katte en hond leef in harmonie met mekaar en met die verskeidenheid inwoners en besoekers aan die plant- en boomryke agterplaas. Pronkpoue, eekhorinkies, hase, veervoet- en kapokhoendertjies, kwakereendjies, papegaaie, tuinvoëls, almal floreer in die spreekwoordelike paradys.

Selfs die brulpadda wat saans op ’n vasgestelde tyd uit sy slaapplek onderin Janet se klerekas kom, spring ongestoord deur die sitkamer buitentoe. Opvallend is dat al die genoemdes wegskram van die kantoor, wanneer een of meer slange in spesiale slanghokke, daar gehou word.

Slange is die eintlike liefde van dié egpaar. As slangvangers is bewaring van alle slange ’n noodsaak. Hulle was jare lank medewerkers van die Transvaalse Museum om ’n volledige databank van Suid-Afrikaanse slange te help opstel.

Die drie kinders het dié liefde geërf. Van babadae het hulle saamgegaan op slanguitstappies. Dus vroeg-vroeg name en gedragspatrone van die verskillende slange geleer en op sig geweet watter giftig is en nié sonder hul ouers se toesig gevang behoort te word nie.

Frans en Janet se opvallend spesiale verhouding móét spruit uit albei se liefde vir dié koningsreptiele. Dis prettig vir haar as hy vertel hoedat hy eenkeer toe sy siek was die nag met sy terugkeer van sy slangekspedisie sy trofeevangs – darem nie ’n giftige een nie – by haar op die bed losgelaat het sodat sy die beauty kon bekyk. Asook eenkeer nóg ’n pragtige een as ’n verjaardaggeskenk op haar spieëltafel neergesit het.

Alles het 37 jaar gelede begin toe hy in Pretoria by sy dokter-broer gekuier het en die dogter van die “rooinekbure” vir fliek nooi.

Op pad het hy gewaarsku oor ’n slang onder die passasiersitplek. Sy was geensins ongemaklik nie. Wat hy nie geweet het nie, was dat sy ’n finalejaar- BSc-soölogie-student was. Sy weer was onbewus dat hy as stokperdjie slange gevang het vir die Transvaalse Museum en ander bekende navorsers.

Hulle is kort daarna getroud, maar op voorwaarde van Janet se pa dat sy klaar studeer en Frans daarvoor betaal. Nadat sy ook HOD voltooi het, bedank hy sy werk in die glasbedryf om in sy oorspronklike beroep as elektrisiën by Carolusberg-kopermyn te gaan werk.

Dit was die ideale geleentheid om saam hul passie uit te leef. Janet het weefselmonsters van dooie slange versamel vir die Transvaalse Museum en Frans onbekende, lewende slange. Hulle het egter hul slegste slang- ervaring daar beleef met kwasi -slangkenners wat slange en ander inheemse reptiele buiteland toe gesmokkel het. Maar ook die lekkerste ervaring met die ontdekking van ’n nuwe huisslang-subspesie, wat geboek­staaf is.

Frans verwyder dikwels slange waar hy werk en hervestig hulle weer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.