Egpaar het SA jukskei laat groei

Om te sê dat Hennie de Klerk van Wellington sy lewe lank ’n senior offisier by korrektiewe dienste was en dat sy vrou Annatjie al die jare ’n huisvrou was, is waar, maar dis nie die volle waarheid nie.


Om te sê dat Hennie de Klerk van Wellington sy lewe lank ’n senior offisier by korrektiewe dienste was en dat sy vrou Annatjie al die jare ’n huisvrou was, is waar, maar dis nie die volle waarheid nie…

Voorop in hul lewens staan die feit dat Hennie en Annatjie de Klerk ’n leeftyd lank ’n belangrike rol in die groei en ontwikkeling van jukskei as gewilde Suid-Afrikaanse sportsoort gespeel het.

“Ons was albei lank voor ons troue reeds geesdriftige jukskeispelers en het mekaar op ’n dag juis by ’n funksie ontmoet,” vertel Hennie en voeg by dat hulle daarna saam tot geesdriftige jukskeispelers ontwikkel het.

Volgens die De Klerks het die sportsoort jukskei reeds in die vóórtyd in die omgewing van die Paarl ontstaan. Daarna het die sportsoort saam met die eerste trekboere oor die land uitgesprei en tydens die Groot Trek is jukskei feitlik elke dag gespeel wanneer daar kamp opgeslaan is vir die nag.

Die De Klerks is daarvan oortuig dat die Paarl ook ’n deurslaggewende rol gespeel het in die belangrike ontwikkelingsproses wat jukskei in die jare rondom 1939 ondergaan het. Hoewel jukskei in daardie jare ook in die noordelike provinsies en in die Oos-Kaap gespeel is, was dit veral as gevolg van inisiatiewe wat van ’n groepie Paarlse jukskeispelers uitgegaan het dat die spel in daardie jare vinnig meer gestruktureerd begin raak het. ’n Volledige stel spelreëls is hier opgestel en dit word vandag nog steeds landwyd gebruik.

In 1939 het die Paarl oor ’n uitsonderlik geesdriftige span jukskeispelers beskik. Die groepie spelers, wat onder meer bestaan het uit Manas de Villiers, sy broer Amie en Nicolaas Retief, het onder leiding gestaan van die Paarliet Dan Grobbelaar, wat in die Suid-Afrikaanse jukskei-annale bekend staan as die vader van jukskei in Suid-Afrika.

Onder sy leiding is verskeie jukskei-unies in en om die Paarl gestig. Die Oukraal, ’n gewilde ontspanningsplek op Paarlberg, was die plek waar verskeie jukskei-klubs dikwels kragte teen mekaar gemeet het. In daardie jare het Manas en Amie de Villiers se beroemde jukskei-liedjie, die immer gewilde Oukraalliedjie, landwyd bekend geraak. Dan Grobbelaar was ook gemoeid met die stigting van die Westelike Provinsie-jukskeibond, waaruit uiteindelik die bekende Boland Bond gegroei het.

Volgens die De Klerks het die eerste volledige koerantberig oor die ontwaking van jukskei in 1939 in die Paarl Post verskyn. Die berig het ’n groot invloed uitgeoefen op die vinnige groei wat die spel daarna in die Boland en in die res van die land beleef het.

Hennie en Annatjie de Klerk was oor al die jare nou gemoeid met die groei en ontwikkeling van jukskei as sportsoort in die land en ook van Wellington se eie jukskeiklub, Fleur de Lis. Hoewel Hennie besig is om af te skaal, is Annatjie nog steeds ‘n geesdriftige speler. Sy is ook president van die Wes-Kaapse Bond en afrigter en sekretaris van die Kaapse Wynland.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.