Die verwydering van die historiese kroondenne-bos by die Afrikaanse Taalmonument (ATM) op Paarlberg het gelei tot heftige debat en verskeie standpunte in die gemeenskap.
Hierdie dennewoud, wat al dekades lank as ’n geliefde ontspanningsgebied vir inwoners en besoekers gedien het, word tans deur die ATM en betrokke instansies afgekap as deel van ’n omgewingsrehabilitasieprojek.
Volgens die ATM-bestuur is die aksie deel van ’n breër strategie om indringerplante te verwyder en die natuurlike biodiversiteit van die gebied te herstel.
“Ons verstaan die ongelukkigheid van inwoners, maar die rehabilitasie van die fynbos is noodsaaklik vir die bewaring van ons natuurlike erfenis en vir die veiligheid van die gemeenskap.”
Die ATM voer aan dat kroondenne (Pinus pinea), hoewel minder aggressief as ander dennespesies, steeds as indringerplante beskou word. Hulle verbruik groot hoeveelhede water, beperk die groei van inheemse plante en hou ’n brandrisiko in.
Ingevolge die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande van 1998 en hul huurkontrak met die departement van openbare werke is die ATM wetlik verplig om hierdie risiko’s te bestuur.
ATM verduidelik dat die besluit ook beïnvloed is deur versoeke van die Drakenstein-munisipaliteit se advieskomitee vir die Paarlbergnatuurreservaat, wat brandstroke en ander maatreëls aanbeveel het om omliggende eiendomme te beskerm.
Maar volgens kritici, insluitend plaaslike natuurbewaarders en inwoners, is hierdie redes nie oortuigend nie. Die bome, wat waarskynlik deur die Hugenote vir hul hout, skadu en dennepitte geplant is, het historiese en estetiese waarde vir die gemeenskap. Daar is ook kommer dat die rehabilitasie van die gebied na fynbos, jare sal neem en moontlik onbevredigend uitgevoer sal word as gevolg van beperkte geld- en hulpbronne. Ook dat die uitkap hiervan tot erge erosie in die wintermaande kan lei.
Maar die ATM voer steeds aan dat die kroondenne ’n gevaarlike brandrisiko inhou, veral in die lig van klimaatsverandering wat veldbrande meer intens en onvoorspelbaar maak.
“Ons kan nie die risiko van ’n potensiële brand ignoreer nie; as ’n brand deur die dennebos uitbreek, loop die ATM, die departement van openbare werke en omliggende plase ’n groot risiko van finansiële en wetlike aanspreeklikheid.”
Inwoners en kritici wys egter daarop dat die verwydering van die bome moontlik die brandrisiko kan verhoog as die gebied nie behoorlik bestuur word nie. Geskiedkundige voorbeelde soos Tokai-woud in Kaapstad toon hoe rehabilitasieprojekte soms misluk as gevolg van gebrekkige opvolgbestuur.
Die kroondenne is deel van ’n eeue oue tradisie waaruit ’n gemeenskapsgevoel ontwikkel het. Vir geslagte is die bos gebruik vir pieknieks, wandelroetes en ontspanning. Sommige inwoners voer aan dat die ATM nie die kulturele en emosionele waarde van die gebied voldoende oorweeg het nie.
“Ons praat nie net van bome nie; ons praat van ’n erfenis wat deur baie mense gekoester word,” sê een Courtrai-inwoner. “Hierdie bome het niemand gepla nie, en dit is ’n jammerte dat hulle sonder behoorlike oorweging afgekap word. Terwyl ander dele van Paarlberg wel onder brande deurgeloop het, was Courtrai-bos nog nooit ’n ‘brandpunt’ nie.”
Die ATM beweer dat daar uitgebreide konsultasie met die gemeenskap en ander belanghebbendes was.
Sedert 2006 is vergaderings met plaaslike grondeienaars en die Drakenstein-munisipaliteit gereël, en ’n bestuurskomitee is in 2020 saamgestel om die projek te monitor.
Tog meen baie inwoners dat hierdie proses nie voldoende was nie. Baie voel dat hulle nie die kans gegun is om hul stem behoorlik te laat hoor nie en dat alternatiewe opsies, soos selektiewe kap en verbeterde brandbeheermaatreëls, nie genoegsaam ondersoek is nie.
Die ATM het verseker die rehabilitasieproses is deeglik beplan en inheemse plante en bome, insluitend spesies soos assegaaibos en olienhout, floreer reeds op ander dele van die terrein. Die proses sal egter jare neem om te voltooi, en inwoners sal waarskynlik vir ’n ruk lank ’n kaal landskap moet verduur.
Die hout van die afgekapte bome word deur die diensverskaffer verkoop, en die geld help om die koste van die projek te dek.
Jonas beklemtoon dat die ATM verbind bly tot die bewaring van die Paarlberg se biodiversiteit en om ’n veilige en volhoubare omgewing vir toekomstige generasies te skep.
Hierdie situasie is ’n komplekse voorbeeld van hoe omgewingsbewaring en gemeenskapsbelange soms bots. Die Courtrai-bos was vir baie mense ’n bron van vreugde en herinneringe, maar dit is ook ’n gebied met groter omgewings- en veiligheidskwessies.
Die vraag bly: Is ontbossing die beste oplossing, of kon ’n meer gebalanseerde benadering gevolg word? Dié debat, wat nou plaaslik gevoer word, raak ’n groter vraagstuk – hoe balanseer ons die beskerming van natuurlike omgewings met die behoeftes en geskiedenis van mense?